Pine skep asem ná Bulle bordjies verhang
2012-10-07 00:28
Die stryd is nog nie gewonne nie, maar prysgegee is hy ook nie.
Só staan sake nadat die Blou Bulle Vrydag-aand hier op Loftus Versfeld ’n kardinale Curriebeker-sege van 26-13 (rustyd 11-3) oor die Westelike Provinsie behaal het.
Daarmee het die Ligbloues hul kans op ’n plek in die halfeindronde van die toernooi lewend gehou – en hul breier, Pine Pienaar, was agterna ’n verligte man duisend.
“Ek wil nou nie snaaks wees nie, maar die WP het ons in ons vorige wedstryd soos paloekas laat lyk,” het Pienaar sy span se nederlaag van 6-42 vroeër vanjaar herroep.
“Maar hierdie keer was baie beter, en ek dink ons het veral uitstekend verdedig.”
Bjorn Basson was binne die eerste vyf minute agter die Kapenaars se doellyn, maar die drie is ná lang oorweging deur die televisieskeidsregter afgewys.
Daardie vroeë nuk om met die bal te hardloop het gelyk soos ’n soeke na ’n bonuspunt vir vier drieë, maar volgens Pienaar het sy span ’n realistiese aanslag tot die wedstryd gevolg.
“Nog net die Haaie het vanjaar vier of meer drieë teen die WP gedruk. Ons het immers gespeel teen die beste verdedigende span in die land. Dalk selfs in die wêreld.
“Ons wou dus ’n beurt bou deur die punte te vat wat ons kon – en Louis Fouché het vanaand vir ons baie goed geskop.”
Fouché, losskakel van die Bulle, het 21 punte van sy kegel af aangeteken, maar andersins ’n twyfelagtige aand beleef.
Pienaar reken wel die voorspelers, en veral sy lostrio, het hulle dié keer van baie beter én meer balbesit voorsien, wat dit vir Fouché net nodig gemaak het om die bal deur die mikke te jaag.
Die WP het die Bulle in hul vorige ontmoeting op die grond verrinneweer, maar is dié keer aansienlik meer gestraf.
Veral die agtsteman, CJ Stander, het in sy laaste wedstryd op Loftus ’n magdom druk by die afbreekpunte uitgeoefen, menige bal omgekeer en die WP tot oortredings gedwing.
Die WP-kaptein, Deon Fourie, het Stander se invloed ná dese uitgesonder. Maar hy en sy afrigter, Allister Coetzee, was dit eens dat die Kapenaars nie hard genoeg probeer het nie.
“Ons het nie gespeel soos ’n span wat wil wen nie. En ons wou graag nog vir ’n tuishalfeind gespeel het,” het Coetzee agterna teleurgesteld gesê.
Fourie het saamgevat: “Ons het opgedaag asof dit net nóg ’n wedstryd is wat ons moet wen.
“Die Bulle was voor die wedstryd onder-aan die puntelys en daar was vir hulle baie meer op die spel – hulle het so gespeel ook.”
Die laaste ronde-ligawedstryd vind aanstaande week plaas.
Die Bulle speel op Coca-Colapark teen die Leeus en die WP op Nuweland teen die Vrystaat.
* Punte:
Blou Bulle 26 (11): Drie: Akona Ndungane. Strafdoele: Louis Fouché (7).
Westelike Provinsie 13 (3): Drie: Strafdrie. Doelskop: Demetri Catrakilis. Strafdoele: Catrakillis (2).