Plum se plan het gewerk teen Bulls
2012-07-07 22:46
Die temperamentele dierasie in die Sharks moet nou net nie weer Saterdag teen die Cheetahs wil kop uitsteek nie, sê John Plumtree, die afrigter.
Dit is daardie “dierasie” wat teenwoordig was in die nederlaag teen die Lions, maar vir die Durbaniete gelukkig nêrens te sien was in Vrydagaand se skittersege met 32-10 oor die Bulls hier op Kingspark nie.
Die bonuspuntdrie wat die Sharks enkele minute voor die einde verseker het, is ’n kleinood – en met hulle en die Bulls nou albei op 54 ligapunte, kan dié twee spanne nog die uitspeelstryde haal, maar hulle sal waarskynlik albei Australasië toe moet vlieg.
’n Bonuspuntsege oor die Cheetahs sal genoeg wees vir die Sharks om deur te dring na die uitspeelstryd, maar óf Australië (die Brumbies of Reds) óf Nieu-Seeland (Crusaders) sal hul voorland wees.
“Ek sal eerder Australië as Nieu-Seeland toe wil vlieg,” het Plumtree gesê nadat sy span die Bulls baie oortuigend geklop het.
“Ek was baie tevrede met die spelers se toewyding. Ons wou ambisieus wees en het hulle met ons strategie verras.
“Ons het byvoorbeeld ons lynstaantekens gewysig en Ryan (Kankowski) het ’n groot rol in die lynstane gespeel.
“Die Bulls wurg jou gewoonlik deur gebiedsvoordeel te hê – en daarom het ons besluit om die druk vanuit die staanspoor op hulle te sit en hulle nie toe te laat om ’n voetholte in die wedstryd te kry nie,” het Plumtree gesê.
“Hulle het egter nie net verdwyn nie en het in die tweede helfte kwaai teruggeveg. Die groot verskil was dat ons hierdie sege wóú hê en nie bereid was om bes te gee nie.”
Hy was ook vol lof vir die vertoning van Frans Steyn, wat in sy terugkeer vir die Sharks groot stewigheid aan die agterlyn gebring het.
“Frans loop oor van gehalte. Hy bring ’n kalmheid, entoesiasme en leierskap wat onontbeerlik is. Hy is hier weg as ’n seun en het as ’n man teruggekeer,” het Plumtree gesê.
Hy glo ook die Cheetahs sal dit nie maklik vir sy span maak om die uitspeelronde te haal nie.
“Dit is altyd ’n kwaai stryd teen hulle.”
Frans Ludeke, die Bulls se afrigter, het erken sy span kon nie kers vashou by die Sharks nie: “Ons vertoning was net nie goed genoeg nie. Wat egter belangrik is, is dat ons lot darem nog in ons eie hande is. Ons sal egter veel beter moet speel teen die Lions en die foute van vanaand (Vrydag) moet regstel.
“Vir ons sal dit nie saakmaak as ons oorsee moet gaan om daar in ’n uitspeelstryd te speel nie. Ons wil net seker maak ons eindig tussen die voorste ses.
“Dit wys jou ook net hoe dinge van week tot week kan verander in die kompetisie. Teen die Cheetahs het ons skitterend gespeel in daardie eerste uur teen hulle, maar hier wou dinge net nie vir ons reg loop nie.”
Pierre Spies, die kaptein, het erken die Sharks het geweldige druk in die vaste fasette op hulle geplaas.
Die Sharks, wat uitstekend verdedig het, het ook deurentyd die foute van die Bulls, wat telkens besit wild weggegooi het, uitgebuit en soos valke op die los bal toegesak.