Pure sewes-hel
2012-01-28 23:14
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
MARCO BOTHA IN STELLENBOSCH
Gelouter. Dís wat die afgelope maand hier met die Blitsbokke gebeur het.
Die bielie Frankie Horne laat val vandeesweek aan Rapport dat daar net ’n doringdraad is wat die hel die afgelope tyd van “Stellenbosch met sy belaglike hitte” skei.
“En ons is gedruk, hoor.
Coach (Paul Treu) het ons verlede Sondagaand gebel en gesê ons moet onsself maar vir min slaap voorberei. Ek het hierdie week elke oggend om 05:10 opgestaan en soms eers ná 20:00 by die huis aangekom. Want ons wil baanbrekers wees. En ons moet wen,” gaan hy voort.
Die Springbok-sewesspan het Vrydag na Wellington in Nieu-Seeland vertrek, waar die volgende toernooi in die Internasionale Rugbyraad se Wêreld-sewesreeks plaasvind. Oor twee naweke verdedig die Bokke hul titel in Las Vegas.
Die Blitse is tans derde op die wêreldranglys – net 3 punte agter die voorlopers, Fidji en Nieu-Seeland. Dit kon omgekeerd gewees het, had die Bokke die Kiwi’s verlede maand in Port Elizabeth vir 30?sekondes langer van hul doellyn weerhou.
“Ons het onsself darem lelik in PE in die steek gelaat. Ons het ál die speelwerk gedoen, maar nie afgerond nie. Daarom het ons sedert Kersfees regtig hard gewerk aan ons afronding, asook ons fisieke en sielkundige voorbereiding.
“Coach-hulle het ons uit ons gemaksone gehaal om ons op ’n plek te kry waar ons in buitengewone omstandighede steeds die regte besluite moet neem en afrond,” het Horne gesê.
Met dié dat sewesrugby in 2016 vir die eerste keer op die Olimpiese Spele aangebied word, begin al hoe meer lande mededingende blitsrugby speel. Baie van die strategieë en tegnieke wat Frankryk, Wallis, Rusland, Argentinië en Amerika in onlangse dae aan die goeie kant van opskuddings laat beland het, het oorspronklik die Bokke se tjappie opgehad.
Volgens Horne wil die span “baanbrekerswerk” bly doen, maar nie net om met Nieu-Seeland, Fidji en Engeland af te reken nie – toenemend ook met middelslagspanne.
“Ons is in die Goue Kus en Dubai geklop deur spanne wat nie gespeel het soos wat ons verwag het hulle gaan nie. Ons het op ’n sekere manier voorberei, maar toe speel die spanne heeltemal anders.
“Frankryk het altyd vir die Vis-en-Tjips-beker gespeel. Maar hulle was nou in drie agtereenvolgende kwarteindrondes.
“Dís nie die Frankryk wat ons maar ’n jaar terug geken het nie. En in ’n stadium gaan hulle begin druk ervaar om in halfeindrondes en eindstryde te speel. Jy kan nie oorgerus wees nie – en ons het die afgelope tyd regtig hard gewerk om onsself vir elke denkbare teenstander en rugbystyl voor te berei,” aldus Horne.
In die groeprondes kom Suid-Afrika teen Engeland, Amerika en die Cook-eilande te staan.

Die SA sewes-toergroep: AGTER: Branco du Preez, Mark Richards, Boom Prinsloo, Cornal Hendricks, Chris Dry, Stephan Dippenaar, Bernado Botha. VOOR: Chase Minnaar, Cecil Afrika, Kyle Brown (k), Paul Delport, Steven Hunt, Renfred Dazel, Frankie Horne. Foto: DENZIL MAREGELE