Regstel, met verdienste
2012-01-28 23:14
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
’n Mens kan dit seker regstellende aksie noem, maar op verdienste.
Heyneke Meyer het Vrydag uiteindelik die pos gekry wat hom vier jaar gelede om politieke redes nie beskore was nie.
Hierdie keer het die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) egter ’n proses, wat reeds op 9 Junie verlede jaar van stapel gestuur is, met professionaliteit deurgevoer en sonder enige omstredenheid vir Meyer as Springbok-afrigter aangewys.
As Meyer egter gedink het die aanvaarding en agting wat die Bokke deesdae oor rassegrense kry, die druk op hom enigsins gaan verlig, het hy Vrydag straks ’n blik gekry op waarmee hy die volgende vier jaar opgeskeep gaan sit.
Nie minder nie as ses vrae op sy eerste nuuskonferensie saam met Saru se uitvoerende hoof, Jurie Roux, en president, Oregan Hoskins, het oor transformasie gehandel. Dis nie om te praat van die vrae wat daaruit voortgespruit het nie.
“Dink Saru nie hulle het ’n fout gemaak nie?”
“Was daar enige swart kandidate?”
“Is dit nie ’n tree agteruit nie?”
En, om die kroon te span: “Sal daar ooit weer ’n gekleurde afrigter wees en hoe vinnig sal dit gebeur?”
Meyer wéét nou dat die aantal swart spelers in sy span getel sal word.
“Die moeilike ding vir ’n Bok-afrigter is dat hy nie tyd het nie.
“Ek is gewoond aan die Bulle waar ek 6 tot 8 weke vir voorbereiding sal hê.
“Jy oefen dan die spelers in die grond in en kry ’n blik op hul karakter.
“Nou begin jy Maandag en die span speel Saterdag.
“Ek weet maar alte goed dit gaan van hier af net moeiliker raak en dat Suid-Afrikaners groot ideale, drome en hoë standaarde het.
“Maar ek voel dis nou my tyd.”