Super-Ruan sink sterk Leicester met 21 punte
2012-01-14 23:42
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Ruan Pienaar en sy Ulster-span het Vrydagaand een van Europa se rugbyreuse hard in die Heinekenbeker-reeks laat val, toe hy ’n groot sege van 41-7 in Belfast, Ierland, oor die Leicester Tigers behaal het.
Die 27-jarige Pienaar was as skrumskakel die vlymskerp argitek van Ulster se oorwinning en die Springbok het een van sy beste vertonings nóg in dié reeks gelewer.
Sy agt uit nege stelskoppe het skoppe van die halflyn, kantlyn en omtrent oraloor op die veld ingesluit.
Hy het net een doelskop rakelings verby die linker-regoppaal gestuur, maar hy het 21 punte met sy stewel aangeteken.
Maar daar was ook sy puik algemene spel waarmee hy gewys het waarom Ulster so hard gewerk het om dié Springbok met 51 toetse se kontrak vandeesweek met nog twee jaar te verleng.
Sy hangskoppe van agter die oond het die Tigers groot probleme in die koue, reënerige toestande op Ravenhill besorg.
Daarby was Pienaar en twee van sy mede Suid-Afrikaners by Ulster, die heelagter Stefan Terblanche en agtsteman Pedrie Wannenburg, by omtrent elkeen van Ulster se vier drieë betrokke – waarvan twee deur die Ierse toetsvleuel Andrew Trimble gedruk is.
Nog ’n Bok, Johann Muller, is Ulster se kaptein en hy was agterna in die wolke oor sy span se vertoning,wat so te sê Leicester se doppie in Groep 4 van die reeks geklink het.
“Dit was definitief een van ons beste vertonings in terme van die kanse wat ons aangegryp het en die passie waarmee ons gespeel het,” het Muller aan AFP gesê.
Ulster het die Heinekenbeker laas in 1999 gewen. Die Tigers was 2001 en 2002 se wenners, maar dié Engelse klub sal nou vir ’n wonderwerk hoop om nog die kwarteindronde te haal.