Tyd vir groentjies
2013-01-27 00:04
Die Puk-rugbyinstituut het ’n klompie jare terug ’n reklameveldtog gevoer met die slagspreuk: “Die universiteit waar jy graad kry met ’n rugbytrui klaar kry.”
Die sukses van daardie instituut sou dus gemeet word aan die aantal gegradueerde studente wat hul stempel na dese as beroepspelers afdruk.
Die verowering van die nasionale klubkroon en goeie jaarpunte was bloot deel van die leerproses eerder as die einddoel self. In dieselfde asem sal Suid-Afrikaners eerskomende naweek vanuit Wellington in Nieu-Seeland die eerste keer ’n ordentlike kans kry om die sukses van die Nasionale Sewesakademie te beoordeel.
Dié is in 2011 op Stellenbosch begin.
En onder leiding van Marius Schoeman, Neil Powell en Vuyo Zangqa het verskeie ontwikkelingspanne al internasionale toernooie gewen.
Dit is alles goed en wel, maar die plan met die akademie was nooit om ontwikkelingspanne net verder te ontwikkel nie.
Dit is veronderstel om ’n voedingsbron vir die Blitsbokke te wees.
En dít is wat hy vandeesweek was toe die Springbok-sewesbreier, Paul Treu, drie 19-jarige produkte van die akademie vir die internasionale toernooie in Wellington en Las Vegas gekies het: Justin Geduld, Cheslin Kolbe en Seabelo Senatla.
Die Wellingtonse toernooi begin Vrydag, en volgens Treu is dit die heel moeilikste deel van die Internasionale Rugbyraad (IRR) se Wêreld-sewesreeks.
Die moeilikheid is dat Suid-Afrika Vrydag daarheen vertrek het sonder die beseerde Cecil Afrika, Kyle Brown, Branco du Preez, Steven Hunt en Ruwellyn Isbell.
Dit is ’n terugslag, want Treu en sy span is onder toenemende druk om weer ’n toernooi te wen – iets wat hulle in Mei 2011 laas gedoen het.
Hierdie skrikwekkende beseringslys maak ’n optimistiese vooruitsig vir die komende twee naweke bra moeilik.
Tog is dit juis in toestande soos hierdie dat ’n mens wil sien of die tiener-trio weliswaar ontwikkel het toe hulle in nasionale ontwikkelingspanne uitgeblink het.
Dit sal onregverdig wees om te verwag dat hierdie drie die stewels van ’n Afrika of ’n Du Preez moet vol staan.
Selfs ’n bloedjong Afrika het in 2009 in George onder druk gevou toe hy ná beserings aan Paul Delport en Powell die besluitnemingsjuk op sy skouers moes neem.
Maar ’n seisoen en ’n half later is hy as die IRR se sewesspeler van die jaar aangewys.
Net soos Afrika destyds is hierdie nuwe spelers almal mense met iets besonders in hul mondering.
En gegewe die embleem op hul bors is dit net reg dat Suid-Afrikaners van hulle verwag om toernooie te wen.
Tog moet ’n mens realisties wees en hierdie komende toernooie eerder as die jong spelers se klerkskap beskou.
En hopelik verander hierdie sandkorrels mettertyd in pêrels.
Enigiets meer is dalk vir eers ’n bonus.
Die SA span is: Chris Dry, Philip Snyman, Frankie Horne (k), Warren Whiteley, Cornal Hendricks, Pieter Engelbrecht, Justin Geduld, Stephan Dippenaar, Paul Delport, Cheslin Kolbe, Tshotsho Mbovane, Seabelo Senatla.