WP lag laaste
2012-10-13 22:52
Dit was reg of weg op Nuweland toe die rugbyspanne van die WP en die Vrystaat mekaar op Nuweland in hul laaste ligawedstryd van die Curriebeker-seisoen gepak het – en dit was reg vir die Streeptruie, wat hard genoeg gebrul het om aanstaande week se halfeindronde hoopvol te kan binne gaan.
Die WP was eindelik met 36-15 baas, maar die wedstryd was reeds vóór lemoentyd in die sakkie en die besoekers kon feitlik g’n hond haaraf maak nie.
Dis daai tyd van die seisoen dat die Springbokke begin Curriebeker speel – en die Blikore het min teruggekeerdes gehad om hulle op te beroep, terwyl gemaklik meer as die helfte van die WP-span in een of ander stadium by die Bok-kamp betrokke was.
Die WP kan tevrede voel met hoe die teruggekeerde Bokke ingeskakel het, hoewel minder besonge spelers soos die flanke Don Armand en Deon Fourie onder hul uitblinkers getel het. Fourie was dié seisoen ’n openbaring as flank – bevry van die plig om by die lynstane in te gooi, is hy ’n bal-dief en wegbreker-flank duisend.
Dit was natuurlik sy aanvanklike posisie, totdat ons alewige behoefte om spelers te drukgang volgens vooropgestelde idees die man in ’n haker verander het. Dieselfde oorwegings behoort ’n man soos Coenie Oosthuizen te geld: gister was hy as vaskopstut duur, maar as loskop is hy reeds ’n breker en ’n half. Hoekom wil jy in elk geval sy gawes as baldraer op vaskopstut gaan verberg?
Dit sou egter belaglik wees om Oosthuizen as knoeier uit te sonder. Die Cheetahs is uit die staanspoor oordonder en die Streeptruie het ’n welkome begeerte geïllustreer om al hul spelers te betrek en die hele veld te gebruik as hul speelplek. Vyf drieë teenoor twee is ’n pak slae in enige taal en die WP-ondersteuners sou tevrede gaan slaap het; gisteroggend was daar verregaande voorspellings dat die Kapenaars op pad uit die kompetisie is.
Die WP se teruggekeerde Bokke, soos Jean de Villiers, Eben Etzebeth en Duane Vermeulen, het gemaklik ingeskakel, maar vir die Kapenaars sal dit verblydend wees dat spelers soos Armand en die puik jong skrumskakel Nick Groom heeltemal tuis lyk tussen hulle.
Vir die Cheetahs was dié ’n teleurstellende seisoen ná hulle Superrugby bekoor het met hul ingesteldheid en vernuf. Beserings het ’n rol gespeel, maar minstens is spelers soos Raymond Rhule ook op die verhoog geplaas.