’n Flou brul
2012-05-05 23:28
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die Chiefs het laas verloor toe die Lions laas gewen het – in die eerste ronde van vanjaar se Super-reeks – en hul negende agtereenvolgende oorwinning en nederlaag gister in Pukekohe sou vir niemand as ’n verrassing gekom het nie.
Die tuisspan het pas klaar getoer en was nie op sy beste onderweg na ’n sege van 34-21 nie, maar die verguisde Lions het beslis nie skande gemaak op hul eerste toerwedstryd nie. Hulle het ’n paar maal meer as skaflik gelyk, net om deur hul eie foute ondergrawe te word.
Die drie waarmee Brendon Leonard die bonuspunt vir die Chiefs ingeoes het, was die gevolg van ’n belowende aanval en ’n skokkende hanteerfout deur die besoekers, wat daardeur hul eie kans verbrou het op wat ’n heel verdienstelike verloor-bonuspunt sou wees.
Die Chiefs het heelparty staatmakers blaaskans gegee, moet bygesê word, en hul normaalweg snoep verdediging was vrygewiger as gewoonlik, maar hulle het geduldig gewag op die onvermydelike Lions-blapse en dié ’n les geleer van hoe en wanneer jy teenaanval.
Want die besoekers kon hulself baie ergernis gespaar het deur nie holderstebolder met alles op loop te wou sit nie. Waar die Chiefs geduldig was en goed afgerond was, was die besoekers oorhaastig en slonsig en dit, in ’n neutedop, was die wedstryd.
Die Lions het gereeld ’n paar fases op mekaar gestapel, maar hulle het nie die afronding om gevaarlik te wees vanuit hul eie kwartgebied nie. Hulle het nietemin gereeld daarvandaan op loop gesit, goed gelyk en besit afgestaan nog voordat hulle juis gebiedsvoordeel kon kry.
Toegegee, die Johannesburgers moes vroeg reeds ’n geniepsige agterstand trotseer, wat dalk tot dié oorhaastigheid kon aanleiding gee.
Ná ’n skaflikerige begin deur die besoekers, kon die Chiefs-losskakel Aaron Cruden dit op sy eie 13-0 maak slegs uit Lions-foute, met die hardwerkende kaptein, Craig Clarke, se drie wat dit 20-0 gemaak het.
Vergesigte van iets afgrysliks moes teen dié tyd by Lions-ondersteuners begin opdoem het, maar alle eer aan die verloorders: die dreigende slagting het nie gematerialiseer nie.
Met ’n bietjie meer geluk kon die Lions selfs met twee ligapunte uit dié afspraak gekom het.
Hulle het egter nooit gelyk asof hulle sou kon wen nie.
Beserings het sy tol geëis van ’n span wat in die eerste plek nie besonder bedeel is met diepte nie. Jongelinge soos Elton Jantjies en Jaco Taute handhaaf, op een of ander manier, hul standaard, hoewel Jantjies dalk minder traag moet wees met sy taktiese voet.
En die pak voorspelers was eerlik teen een van die bestes in die kompetisie, maar dis moeilik om weg te kom van die vrees dat vanjaar se toernooi ’n slagting vir die Lions kan word.
Hoe die arme spelers midde-in die knoeiery rondom Suid-Afrika se vyf Super-streke kan konsentreer, weet nugter.
Hulle het egter min keuse of tyd om oor die toekoms te tob: Vrydag se wedstryd teen die Blues is hul beste kans op toer om hul momentum te verander.
Maar om selfs dié sukkelende Kiwi’s te stuit, sal meer dinkwerk en konsentrasie verg as wat die Lions gister uitgestal het.