Gay vrou aangeval: ‘Ek sal jou reg skop’
2010-05-16 00:11
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
HERMAN SCHOLTZ IN PRETORIA
herman.scholtz@rapport.co.za
’n “Godvresende” vrou het glo “in die naam van die Here” ’n mede-lidmaat van haar kerk herhaaldelik tussen die bene geskop omdat dié gay is.
Me. Liana Munnik (31) van Pretoria moes glo hoor haar seksuele oriëntasie is ’n belediging vir die Christendom, dat sy reguit hel toe sal gaan en dat sy “reg geskop” sou word.
Munnik maak dié bewerings in ’n siviele eis teen me. Margaret de Beer in die Pretoriase hooggeregshof.
Die dagvaarding is eergister ook aan mnr. Gerhard de Beer, haar man, beteken omdat hy glo “aktief persone wat die aanranding op (Munnik) wou staak, verhoed het”.
Munnik eis R1 026 245,70 vir mediese uitgawes, verlies aan inkomste en vir skok, pyn en lyding. Sy eis ook R500 000 as genoegdoening vir die beweerde haatspraak en laster.
Die De Beer-egpaar woon nou in Mokopane (Potgietersrus), maar besit steeds ’n eiendom in die Pretoriase rykmansbuurt Waterkloofrif.
Munnik het aan Rapport vertel dat sy die aand van 15 Mei 2007 ’n verjaardagete bygewoon het. Die gasheer se huis was op dieselfde erf as die De Beers se woning.
Munnik was, soos die De Beers, ’n lidmaat van die Hatfield Christian Church, maar het hulle nie persoonlik geken nie.
Munnik en haar vriendinne het hul Nissan Hardbody-bakkie voor De Beer-hulle se woning geparkeer. Later wou mev. De Beer haar Mercedes uit die motorhuis trek.
Toe Munnik en haar vriende nie gou genoeg die bakkie verwyder het nie, het ’n onderonsie ontstaan.
Mev. De Beer het glo erg teenoor Munnik en twee van haar vriendinne begin uitvaar.
“Sy het vir my gesê sy gaan vir die pastore sê dat ek gay is. Sy het soos ’n dier en ’n besetene tekere gegaan,” vertel Munnik.
Mev. De Beer het glo ook vir haar gesê: “Ek sal jou p*** vir jou reg skop, want die Here het hom gemaak sodat ’n man en vrou seks kan hê en ’n kind in die wêreld bring.” Sy het Munnik glo ’n “abominasie in God se oë” genoem.
Die gesprekke is glo opgeneem.
’n Ambulans en veiligheidswagte van ’n private maatskappy is ontbied. Munnik het weens die beweerde aanranding haar bewussyn verloor en kon nie self staan of loop nie.
Sy moes verlede jaar ’n operasie ondergaan om dooie weefsel te verwyder.
“Jy’s so verneder en verniel. Dit het voor mense gebeur. Sy’t probeer om my waardigheid as mens weg te skop.”
Sy het destyds dadelik die voorval aangemeld en haar beserings laat dokumenteer, maar het tot nou toe nie kans gesien om die wêreld in die oë te kyk nie.
Dit grief haar dat mev. De Beer “die Here as getuie geroep het om haar dade te regverdig”.
“Ons gaan na dieselfde kerk toe. Ons sit in dieselfde banke. Ons sing dieselfde liedjies. Ons luister na dieselfde preek. Ek dien my Here. Ek is ook deel van die skepping.”
Mev. De Beer het eers die foon in Rapport se oor neergesit en later teruggebel om te sê “elke storie het twee kante”.
Mnr. De Beer het die bewerings as “lagwekkend” afgemaak. Hulle sal die eis teenstaan. “Drie lesbians het my vrou aangeval. Sy het een keer uit noodweer geskop.”
Die hele siviele eis is ’n “veldtog” om sy vrou “swart te smeer”, sê hy.
“Ons wil net in vrede leef. Al wat ek kan sê is dat hierdie duisternis teen lig is.”