Marikana maak wêreldwyd opslae
2012-08-19 00:01
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die Marikana-mynslagting waarin 34 mense dood is, het regoor die wêreld opslae gemaak.
Dit was Vrydag die hoofstorie op internasionale nuuskanale soos CNN, BBC World News, Aljazeera en Sky News.
Dit is beskryf as die ergste polisiegeweld sedert die aanbreek van demokrasie in die land en is vergelyk met die Sharpeville-slagting van 1960 toe die polisie met skerppunt ammunisie op betogers geskiet en 69 dood en 180 beseer is.
Die beelde op TV wat toon hoe polisiebeamptes met outomatiese vuurwapens op betogers losbrand, is ’n ongemaklike herinnering van Suid-Afrika se rassistiese verlede, berig Reuters.
Hoewel die strydpunte nou verskil van die verlede, is die polisie se reaksie steeds dieselfde as tydens apartheid en is die uitkoms van die geweld ook soortgelyk, aldus Reuters.
The New York Times het berig dat die polisie se optrede baie Suid-Afrikaners herinner aan die vorige bedeling toe die polisie met skerppunt ammunisie op betogers losgebrand het.
Die staking en die regering se “ystervuis-reaksie” versinnebeeld die frustrasie met die stadige pas van transformasie van besighede wat meestal in wit besit is en die groeiende gevoel dat die ANC en sy bondgenote kop in een mus is met sakelui, skryf The New York Times.
CNN het die gebeure as ’n bloederige geweld-orgie beskryf.
Dit het berig oor plaaslike koerante se hoofopskrifte Vrydag soos “Killing Field”, “Cops go in for kill” en die voorbladfoto’s van dooie werkers wat in die stof lê.
Die Los Angeles Times berig ses vuurwapens is glo by die dooie mynwerkers gevind, waarvan twee vuurwapens aan die polisiebeamptes behoort het wat vroeër die week in ’n skermutseling met die betogers vermoor is.
Die Italiaanse koerant Republica het berig die polisie is nie opgelei om skare te beheer nie en dat die beamptes onwillig was om die geweld te stop nadat hul twee kollegas dood is. Uiteindelik was die polisie die oorsaak van die geweld.
Bangladesh Daily Star berig dat die slagting reeds ’n nadelige effek op platinum-produksie het.
Financial Times berig die geweld het die beeld van die mynsektor skade aangedoen. Dit, teen die agtergrond van dié sektor wat reeds onderpresteer weens infrastruktuurprobleme, die onsekerheid oor regeringsbeleid en die debat oor die nasionalisering van myne.