Marikana: Haar man is soms te moeg om te eet
2012-08-19 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Haar man is soms so moeg as hy van die werk af kom dat hy nie genoeg energie het om te eet nie, sê Busiwe Falo.
Hy is een van die stakende mynwerkers by Lonmin se Marikana-myn, wat daarop aandring dat sy salaris van R4 000 tot R12 500 per maand verhoog word.
“Ons mans is honger mans. Hulle gaan ondergronds dood en hulle word siek weens hul werk. Hulle moet betaal word wat hulle verdien,” sê Falo, wat van Idutywa in die Oos-Kaap kom.
R600 van die R4 000 wat haar man per maand verdien, gaan aan die huur van ’n klein plakkershut in Nkaneng.
Sy sê ondanks haar man se geswoeg is die lewe vir hulle ’n opdraande stryd.
“Ons mans werk hard, maar hulle ly honger. Ons is ook honger. Daar is nie paraffien of kos in ons huis nie. Dit is waarom ek vandag hier is, om my man te ondersteun,” sê sy terwyl ’n groep vroue singend met plakkate omhoog die mans se staking steun.
Palesa Kgwarela sê haar pa werk al 34 jaar op myne om Rustenburg, maar verdien steeds net R6?500 per maand.
Sy is die oudste van sewe kinders en sê die lewe is soms so swaar dat selfs die basiese dinge, soos skoolskoene, moeilik bekombaar is. “Ons bly in ’n tweeslaapkamer-plakkershut, al nege van ons. My pa hoes baie. As dinge nie verander nie, sal ek nie kan skoolgaan en goeie onderrig kry nie.”
Die meeste van die vroue wat bereid was om te praat, het gesê hul mans het rugprobleme en longkwale omdat hulle ondergronds werk.
Dit is net regverdig dat hulle vir die harde werk beloon word, sê die vroue.