129 LP’s verklaar nie belange betyds
2012-08-12 00:10
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Lizel Steenkamp in Kaapstad
Tot 129 “lakse” parlementslede het versuim om hul finansiële belange teen die spertyd van 31 Julie te verklaar.
Dit is meer as ’n kwart van die parlement se 454 LP’s en die einste mense wat senior staatsamptenare weekliks weens soortgelyke versuime oor die kole haal.
Hulle kan boetes van tot R74 000 elk opgelê word.
Dit is gelykstaande aan ’n maand se salaris en sal gehef word as hulle nie teen 23 Augustus aan die vereistes voldoen nie.
Fazela Mahomed, die parlement se registrateur van ledebelange, het die pligsversuim Woensdag aan die komitee oor etiek en ledebelange onthul.
Sy het gesê talle LP’s het op die nippertjie om uitstel gevra en buitelandse reise en oorsigbesoeke as verskonings aangevoer.
Die komitee – met die twee gesamentlike ANC-voorsitters, prof. Ben Turok en Lemias Mashile, aan die spits – het uitgevaar teen dié LP’s wat “die parlement in die verleentheid stel”.
“Dit wek die verkeerde indruk. Miskien is dit niks anders as luiheid nie,” het Turok gesê. Ook Mashile was onthuts. “Moenie vir my sê al 129 LP’s is nou oorsee nie. Almal is hier. Dis laksheid.”
Die komitee het die spertyd teësinnig met drie weke uitgestel en beslis die voorgeskrewe strafmaatreëls sal daarna geld.
Die skuldiges is van ál die partye. Sandy Kalyan, die DA se adjunkhoofsweep, het bevestig sy het ’n skriftelike versoek gerig om namens twee DA-LP’s uitstel te vra.
Volgens haar het hulle teen Dinsdag hul verklarings by Mahomed ingedien.
Mashile het gesê die name van LP’s wat voortaan versuim om die spertyd te haal, sal bekendgemaak word.
Ingevolge die gedragskode moet alle LP’s jaarliks hul finansiële belange aan die registrateur verklaar. Dit geld nie net bates soos eiendom en grond nie, maar ook aandele in ondernemings, enige ander inkomste benewens die salaris wat hulle as LP’s ontvang, direkteurskappe en vennootskappe, toelaes, borgskappe, voordele en geskenke wat meer as R1?500 elk beloop, buitelandse reise wat nié deur die parlement betaal is nie en pensioenbydraes.
LP’s word verplig om hulle van vergaderings te verskoon as kwessies ter sake is waarin hulle of hul lewensmaats sakebelange het.