145 683 van SA bly nou in Oz
2012-07-15 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Christine van der Westhuizen in Johannesburg
Afrikaans is die taal wat ná Engels die meeste gepraat word in sewe van Perth se noordelike kuswoongebiede.
Mens weet boonop ook nou hoeveel Suid-Afrikaners in Australië woon: 145 683 inwoners, 0,7% van die land se bevolking, is in Suid-Afrika gebore.
Dít het aan die lig gekom in die Australiese sensus van 2011, waarvan die resultate drie weke gelede bekend gemaak is.
Perth word dikwels “Bloemfontein by die see” genoem. Dit is nes Bloemfontein ’n kleinerige stad en vanweë sy duisende Suid-Afrikaanse immigrante is dit ook Australië se mees Afrikaanse stad.
In die Groter Perth-gebied is Suid-Afrika vierde op die lys van inwoners se geboorteplek ná Australië (59,6), Engeland (9,5%) en Nieu-Seeland (3,1%). 1,8%, oftewel 30?291, van Perth se inwoners is in Suid-Afrika gebore.
Ná Engels is Italiaans (1,4% van die bevolking) die taal wat die meeste in Australië gepraat word, met daarna Mandaryns (1,6%), Kantonnees (1,2%), Viëtnamees (1,1%) en Arabies (1,3%).
Die sensus dui ook daarop dat Australië se bevolkingstal sedert 2006 met 8,3% tot 21,5 miljoen mense toegeneem het. Meer as 30% is oorsee gebore, met Engeland (4,2%), Nieu-Seeland (2,2%), China (1,5%), Indië (1,4%) en Italië (0,9%) bo-aan die lys.
Inligting afkomstig van:www.censusdata.abs.gov.au.