25 jaar tronkstraf ná pleitooreenkoms
2012-08-08 12:35
Mzwamadoda Qwabe, is vandag in die Kaapstadse hooggeregshof deur regterpresident John Hlophe tot 25 jaar gevangenisstraf gevonnis vir die opspraakwekkende Anni Dewani-moord in November 2010. Anni se oom, Ashok Hindocha, het vanuit Swede aan Rapport gesê die uitspraak van die hof is "goeie nuus".
Volgens sy prokureur, Daniel Theunissen, is 'n pleitooreenkoms met die staat aangegaan, wat deur Qwabe onderteken is.
Hierin het Qwabe skuldig gepleit op ontvoering, roof met verswarende omstandighede, moord en die onwettige besit van 'n vuurwapen. Qwabe, wat vroeër saam met Xolile Mngeni aangekla is, sê in sy verklaring Mngeni het Dewani vanuit die voorste sitplek van die ontvoeringsmotor met 'n 7.62mm Norinco-pistool met 'n enkele skoot doodgeskiet.
Hul medebeskuldigde, Shrien Dewani, se regsspan het verlede week in die Westminster-landdroshof vertel hul kliënt kort ten minste 'n jaar om van post traumatiese stres te herstel, voordat die hof kan besluit of hy na Suid-Afrika moet kom om hier tereg te staan.
Mngeni het volgens sy prokureur 'n breingewas en sal glo met groot moeite hofprosedures kan volg.