85% van Vrystaatse landbougrond in wit hande
2012-08-18 23:49
’n Oudit van 54% van álle grond in die Vrystaat het aan die lig gebring 85% van landbougrond in dié provinsie is in wit hande.
Dr. Jack Armour, Vrystaat Landbou se bedryfsbestuurder oor grondhervorming, het by navraag aan Rapport gesê die grondhervormingsproses in die Vrystaat, asook die Noord-Kaap en Noordwes, is ver agter vergeleke met die res van die land omdat dit nie ’n aanloklike vooruitsig is om in dié provinsies te boer nie.
Vrystaat Landbou het tussen April en Junie ’n grondoudit gedoen. Die afgehandelde 54% is gelykstaande aan 12,3 miljoen ha.
Die bevindings is:
* 85,1% van landbougrond word deur wit boere besit;
* 0,28% van grond is in buitelandse besit;
* 3,3% is in staatsbesit;
* 5,7% is in swart besit, waarvan 2,4% spruit uit grondhervorming en die orige 3,3% uit private transaksies; en
* 5,6% behoort aan onder meer kerke, myne en nie-regeringsorganisasies.
Volgens Armour sal die patroon van grondbesit nie veel verander nadat die oudit van die oorblywende 46% Vrystaatse grond afgehandel is nie.
Intussen het Gugile Nkwinti, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, die afgelope week gesê die nasionale grondoudit sal nou ook grond in private besit insluit. Dié aankondiging volg op die ANC se besluit op sy onlangse beleidskongres in Midrand dat die nasionale grondoudit teen Desember afgehandel moet wees.
Navorsing deur prof. Cherryl Walker, ’n sosioloog aan die Universiteit van Stellenbosch en kundige oor die geskiedenis van grondeienaarskap, toon net 68% – en nié 90% nie – van kommersiële landbougrond op die platteland wat in private besit is, moet vir grondhervorming in aanmerking kom.
Hoewel die meeste kommersiële landbougrond steeds in wit besit is, meen Walker en Armour die regering neem nie in ag dat die patrone van grondbesit inderdaad sedert 1994 stelselmatig verander het nie. Walker reken 15% van kommersiële landbougrond landwyd is reeds in die hande van betreklik welvarende swart mense.
Sy het per e-pos aan Rapport gesê dié syfers moenie gebruik word om grondhervorming teen te staan nie. Dit toon eerder grondhervorming moet versigtig aangepak word om maatskaplike geregtigheid en landelike ontwikkeling in ag te neem.
Armour sê daar moet klem gelê word op streekverskille om grondhervorming meer strategies aan te pak.
“As KwaZulu-Natal byvoorbeeld ’n mikpunt van 30% het vir grondhervorming en dit met 10% oorskry, moet dit straks ’n laer teiken vir die Vrystaat, Noord-Kaap of Noordwes kan beteken.”
Nkwinti het die afgelope week gesê R3,6 miljard is tussen April 2010 en Desember 2011 aangewend vir landwye ingryping by 595 vervalle grondhervormingsprojekte, waaronder 411 plase.
Vir Armour is daar hoop in die nuwe wetgewing oor ruimtelike beplanning en grondgebruik wat in die komende week in die parlement aangepak sal word.
“Ons het grondhervorming nodig. Die nuwe wetgewing skep die geleentheid om die regte grond met die regte gemeenskap te verbind sodat landbougrond volhoubaar produktief bly.”