Aarto-wet en strafpuntstelsel nié op 1 Oktober in werking
2010-09-11 22:58
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Amptenare het gister ontken dat die omstrede Aarto-wet en gepaardgaande strafpuntstelsel vir verkeersoortredings op 1 Oktober in werking tree.
Dít kom nadat mnr. S’bu Ndebele, minister van vervoer, op SABC-radionuus gesê het die strafpuntstelsel is op 1 Oktober motoriste se voorland.
Die Wet op die Administratiewe Beregtiging van Verkeersoortredings (Aarto), waarvan die strafpuntstelsel deel vorm, is tans net op proefgrondslag in Johannesburg en Pretoria van toepassing.
Dit behels onder meer dat ’n bestuurder wat meer as 12 strafpunte het se rybewys vir drie maande opgeskort word.
Ndebele het volgens SABC-nuus die aankondiging gemaak tydens die bekendstelling van die nasionale verkeerswetstoepassingsplan in Boksburg aan die Oos-Rand.
Mnr. Logan Maistry, Ndebele se woordvoerder, het navrae oor die kwessie verwys na mnr. Collins Letsoalo, waarnemende uitvoerende hoof van die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC), wat verantwoordelik is vir Aarto.
Letsoalo het ontken dat enige uitbreidings in die toepassing van Aarto vir vanjaar beplan word.
Volgens Letsoalo is die RTMC se mikpunt om Aarto, sonder die strafpuntstelsel, teen 1 April landwyd in te stel. Die datum vir die instel van die strafpuntstelsel is nog nie bepaal nie.
Intussen is verkeerkenners besorg oor die chaos met die Aarto-proeflopies en sakelui wil in November ’n noodvergadering hou onder leiding van die Johannesburgse Kamer van Handel en Nywerheid (JCCI).
Hulle is bekommerd dat administratiewe gebreke bestuurders hul rybewyse kan kos en ondernemings se vlote tot stilstand kan dwing.
Ndebele het in Januarie ook verwarring veroorsaak toe hy gesê het Aarto sou op 1 April vanjaar in werking tree.
Die RTMC het enkele dae voor dié datum nog geen woord daaroor gerep nie en April het gekom en gegaan sonder dat die toepassing van die wet landwyd uitgebrei is.
Daarna sou Aarto op 1 Julie na Durban, Kaapstad, Port Elizabeth en Ekurhuleni uitgebrei word.
Pleidooie van die Kaapse metroraad aan Ndebele dat die voorbereiding gebrekkig is, het aanvanklik op dowe ore geval en dié datum is eers op die nippertjie onbepaald uitgestel nadat Kaapstadse owerhede hofstukke hieroor ingedien het.
Maistry het gister gesê Ndebele het in sy jongste uitlating nie verwys na “’n formele inwerkingtreding” nie, maar dat op dié datum “informeel” vasgestel sou word wat die vlak van Aarto-gereedheid is.
Die openbare beskermer is op versoek van Sake24 besig met ’n ondersoek na alle aspekte van Aarto en die toepassing daarvan.