Afrikaanse boeke boer nou vooruit
2012-10-20 23:37
Afrikaanse fiksie beleef ’n bloeityd.
Die Afrikaanse boek, hetsy liefdesverhale, gewilde leesstof, spanningsverhale, digkuns, romans of ander literêre tekste, is gewilder as ooit.
Dis omdat Afrikaanse skrywers produktiewer as ooit is en hul skryfwerk “van uitstaande gehalte” is, sê Eloïse Wessels, uitvoerende hoof van NB Uitgewers.
Wessels het Vrydag by die toekenning van die prestigeryke M-Net-letterkundepryse aan Rapport gesê “dit gaan voor die wind met Afrikaanse fiksie”.
“Goeie fiksie verkoop goed, digbundels verkoop goed. Ons skrywers lewer gehalte en die Afrikaanse publiek sien daardie gehalte raak.”
Daarby word vertalingsregte vir van Suid-Afrikaanse boeke oorsee flink verkoop.
“Deon Meyer is byvoorbeeld in Frankryk en Duitsland ’n topverkoper en het daar al seker al die belangrikste literêre pryse gewen.”
Meyer se spanningsroman 7 dae is Vrydag aangewys as die wenner in die fliekafdeling – dus die Afrikaanse roman met die grootste verfilmingspotensiaal.
Sonja Loots het die prys vir die beste Afrikaanse roman vir Sirkusboere gewen.
Die ander vier op die kortlys was Piekniek by Hangklip (Kerneels Breytenbach), Net ’n lewe (Fransi Phillips), Wals met Matilda (Dan Sleigh) en 7 dae.
Die beoordelaars in die afdeling beste roman was prof. Stewart van Wyk, prof. Heilna du Plooy en Gerrit Schoonhoven.
“Afrikaanse letterkunde is baie gesond,” het Du Plooy gesê.
Karakterisering van die hoogste gehalte, gekombineer met ’n voortreflike vertelling is wat Sirkusboere laat wen het, was die beoordelaars se bevinding.
Volgens Van Wyk is een van die gewilde onderwerpe deesdae die “rekonstruksie” van geskiedenis, soos ook in die geval van Sirkusboere.
“Sirkusboere laat die geskiedenis voor jou afspeel. Dis besonders om ’n stuk geskiedenis te gaan opdiep en dan vir ’n hedendaagse gehoor te lewer.
“Die skrywer het ’n karakter soos Piet Cronjé gaan afstof en in ’n genuanseerde, volwaardige karakter omgeskep.
“Die boek draai egter nie doekies om oor die Anglo-Boereoorlog nie; ook nie oor die skadukant en die makabere aspekte daarvan nie. Loots weet hoe om taal te hanteer, saam met uitmuntende humor.”