Afrikaanse skole het kreatiewe planne nodig vir oorlewing
2010-05-16 00:11
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
CARIEN KRUGER IN PRETORIA EN HENRY CLOETE IN KAAPSTAD
carien.kruger@rapport.co.za; henry.cloete@rapport.co.za
Die druk op Afrikaanse enkelmediumskole gaan op die duur beslis nie afneem nie.
Mnr. Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), waarvan die lede 90% Afrikaans is, sê die grootste redes hiervoor is demografie en politiek.
Die regering neig om die reg op toegang tot onderwys belangriker te ag as taalregte, sê hy.
Verder krimp die getal Afrikaanse leerlinge. Bevolkingsyfers wys dat wit paartjies minder as twee kinders het, terwyl bruin paartjies se getal kinders besig is om tot twee af te neem.
Emigrasie het potensieel duisende Afrikaanse kinders uit die land geneem en in Suid-Afrika self is 10% tot 15% van Afrikaanse kinders volgens SAOU-navorsing in Engelse skole.
Klopper sê dit lyk of Engels vir bruin mense die “taal van aspirasie” is en baie ouers stuur hul kinders na Engelse skole.
’n Vroeëre, soortgelyke neiging onder Afrikaanse ouers neem volgens hom klaarblyklik nou af.
Mnr. Paul Colditz, uitvoerende hoof van die federasie van skoolbeheerliggame (Fedsas), stem saam dat Afrikaanse skole polities en van ouers se kant onder druk is.
SAOU-navorsing toon sowat 10% van Afrikaanse leerlinge is in onafhanklike skole.
Dit terwyl goeie, Afrikaanse, openbare skole volgens Klopper net so goed of selfs beter as die goeie onafhanklike skole is.
Colditz voeg by dat gegewe hul klein getal, is Afrikaanse skole in die algemeen onder die top-presteerders in die land.
Volgens Klopper lê die oplossing vir Afrikaanse onderwys nie in onafhanklike skole nie, want nie alle ouers kan dit bekostig nie.
“Daar wag vir Afrikaanse gemeenskappe nog harde besluite.?Hulle moet besef ’n openbare skool kan nie Afrikaans bly as die skoolgeboue nie volledig en ekonomies haalbaar vir onderwysdoeleindes gebruik word nie.”
Gemeenskappe moet die kwessie van skole met kwynende getalle volwasse benader en na die groter prentjie kyk.
As hulle hul eie skole net so probeer behou, sê Klopper, word hulle uiteindelik gedwing om parallel- of dubbelmedium te word.
En Colditz sê sodra die getal Engelse leerlinge in ’n Afrikaanse skool sowat 30% van die leerlingtal word, begin die druk op Afrikaans toeneem.
Volgens Klopper is parallelmediumskole op die platteland wel ’n aanvaarbare model, maar die proses moet goed bestuur word.
Dan kan dit bydra tot die voortbestaan van Afrikaanse onderrig, soos al lank by die goed bestuurde Hoërskool Piet Potgieter in Potgietersrus gebeur.
Afrikaanse skole met kwynende getalle het ook al saamgesmelt om Afrikaans te kan bly. Dis hoe die
Hoërskool Die Anker in Brakpan ontstaan het.
In Noordwes is die Laerskool en die Hoërskool Schweizer-Reneke besig met ’n proses waardeur albei afsonderlik sal bly voortbestaan, maar op een skoolterrein.
So kan Afrikaanse onderrig verseker word terwyl die skoolgeboue baie goed benut word.
Colditz sê al is Afrikaanse leerlingtalle weens emigrasie en stabiliserende geboortesyfers aan’t daal, is die getal Afrikaanssprekendes wat onderwysers word aan die groei.