‘Baaaas, jy moet kom! Skelms!’
2012-07-16 06:47
Julian Jansen in Durbanville
Erard Louw se selfoon lui op sy skaapplaas by Phisantekraal buite Durbanville in die Wes-Kaap.
Die selfoonskerm wys die oproep kom van Skaap 4 af.
Louw antwoord nie, maar haas hom na sy bakkie, want Skaap 4 se oproep beteken daar is skaapdiewe op sy plaas.
Louw is een van vyf boere wat die Celmax-stelsel se selfoontegnologie inspan om veediewe op sy plaas van 750 ha vas te trek.
Vier van sy skape dra selfone.
Elkeen het ’n oproep-identifikasie wat op Louw se foon aandui watter een van die vier skape hom bel.
Hy sê die gebellery van sy skape is g’n wolhaarstorie nie, maar iets wat hom en ander boere help om die booswigte vas te trek wat skape op hul plase steel.
Louw sê een skaap in elk van sy troppe – ’n trop kan tussen 200 en 500 skape wees – dra ’n selfoon in ’n houer om sy nek wat ’n oproep na Louw se selfoon maak sodra die skape onrustig raak en vinnig beweeg.
Louw ontvang dan die oproep as ’n luitoon en ’n SMS wat byvoorbeeld lui “Skaap 4” (wat beteken dis trop no. 4 wat hom “bel”).
Die geprogrammeerde selfoon en die toestel se houer en halsband het hom R7 000 uit die sak gejaag.
Sy intekengeld is R300 per maand.
Celmax is ontwerp deur Phillip Lötter van Caledon en dr. Johann de Swardt van Stellenbosch.
Louw sê hy het twee weke gelede so ’n oproep van een van sy skape ontvang, maar die diewe het laat spaander met 27 skape en 13 lammers.
Van die blêrende lammers se koppe is teen pale vergruis om hulle stil te maak.
Die diewe het op die plaaspad gehou en op ’n “vreemde plek” op die plaas die draad geknip.
Louw het verlede jaar verliese van sowat R250 000 gely.
Daar is geen versekering teen die diefstal nie.
Dit gaan hom drie jaar neem om die “skaapwaarde” te vervang.
Louw sê die diewe trek met die skape te voet deur buurplase, soms tot 30 km ver.
Hy vermoed dis die werk van sindikate in die omgewing.
Volgens Louw het talle skaapboere in Durbanville en Philadelphia weens die toenemende diefstal omgeskakel na bees- of ’n ander soort boerdery.
Beesboerdery doen goed hier, sê hy, maar beeste word ook deesdae gesteel.