Bedankings striem waghond teen korrupsie
2012-10-13 23:19
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die regering se vernaamste korrupsiebestryder gaan gebuk onder ’n rits topvlak-bedankings wat die oopvlek van miljarde rande se korrupsie in die staatsdiens kan kortwiek.
Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) het vyf hoogs bekwame bestuurders verloor sedert pres. Jacob Zuma in November 2011 Willie Hofmeyr as SOE-hoof gepos het.
Volgens adv. Nomvula Mokhatla, waarnemende hoof van die SOE, het die eenheid boonop in die laaste boekjaar R150 miljoen aan forensiese konsultante bestee omdat daar te min ondersoekers is.
Die SOE het in die 2011-’12-boekjaar korrupsie van R5 miljard in die staatsdiens oopgevlek.
Daar word geraam die regering sou die afgelope agt jaar verliese van minstens R16,6 miljard gely het as dit nie vir die SOE was nie.
Een van die topbestuurslede wat bedank het, is Peter Bishop, operasionele hoof aan die stuur van forensiese ondersoeke.
Bishop was deel van die SOE se uitvoerende bestuur en het intussen by Anglo American aangesluit.
Nóg vier senior en middelvlakbestuurders het die SOE verlaat sedert Zuma se planne om Hofmeyr deur oudregter Willem Heath te vervang in Desember 2011 geboemerang het.
Die SOE is dus al tien maande lank leierloos met Mokhatla as waarnemende hoof.
Die ander bestuurders wat bedank het, is:
* Warwick Meier, hoof van forensiese data. Hy was ’n “sleutelfiguur” by die SOE, “?’n IT-spesialis met baie skaars vaardighede”. Hy is nou by Sasol.
* Marike Muller, kommunikasiehoof. Sy is nou by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens.
* Clint Oellerman, “een van die SOE se beste programmeerders”. Hy was betrokke by die ondersoek na die omstrede huurooreenkoms vir die polisie se hoofkantoor in Pretoria waaroor Bheki Cele, nasionale polisiehoof, afgedank is. Hy is nou by die Mededingingskommissie.
* Karam Singh, ’n middelvlakbestuurder, is nou verbonde aan die Menseregtekommissie.
Een van die bestuurders wat bedank het, het aan Rapport gesê baie mense is weg omdat Hofmeyr weg is.
“Ek kan nie voorgee ek was die afgelope ses maande gelukkig by die SOE nie en Mokhatla (se bestuurstyl) het waarskynlik daartoe bygedra (dat ek bedank het), maar ek is nie net weg oor haar nie.”
’n Topbestuurslid by die SOE het aan Rapport erken dit gaan maande duur om die vyf spesialiste te vervang en dat dit ’n invloed op die SOE sal hê.
“Die mense het skaars vaardighede en dis ’n groot verlies. Maar die SOE kan nie meeding met die salarisse wat hulle aangebied is nie – van hulle kry tot 40% meer.”
Dene Smuts, DA-LP, het Mokhatla oor die bedankings gekonfronteer toe die SOE die afgelope week voor die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie verskyn het. Smuts het aangevoer die SOE verloor te veel “goeie mense” en dat dié eenheid “nie meer selfvertroue uitstraal nie”.
Mokhatla het dit ontken en aangevoer die werkverhouding tussen die SOE en sy werknemers het verbeter sedert sy by Hofmeyr oorgeneem het.
“Ons is spyt oor die bedankings, maar jy kan mense nie keer as hulle beter geleenthede kry nie.”
Mokhatla het tydens haar voorlegging gesê die SOE se werklas word ál groter. Die eenheid het in die 2011-’12-boekjaar R150 miljoen aan forensiese konsultante bestee – 163% meer as die R57 miljoen wat die vorige jaar hieraan bestee is.