Begroting tref rykes die hardste
2012-02-23 07:56
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Francois Williams en David van Rooyen
KAAPSTAD. – Die rykes gaan hoes. Vanjaar se begroting slaan Suid-Afrikaners in die hoër inkomstegroepe die hardste in ’n lang tyd, met ’n reeks verrassings in mnr. Pravin Gordhan, minister van finansies, se begrotingsrede gister.
Suid-Afrikaners kry belastingverligting van R9,6 miljard danksy die aanpassing van belastingkerwe om vir inflasie voorsiening te maak, maar aan die ander kant betaal almal meer vir petrol, drink- en rookgoed.
Brandstofbelasting is skerp met 28c per liter verhoog. Dit tree op 4 April in werking en sluit ’n verhoging van 8c in die padongelukfondsheffing in.
Die aksyns op bier is met 10% tot R1,01 vir ’n 340-ml-blikkie verhoog, en die aksyns vir spiritualieë styg met 20% tot R36 vir ’n 750 ml-bottel.
Die groot skok in vanjaar se begroting is egter die wyse waarop die rykes bygekom word. Kapitaalwinsbelasting, wat betaalbaar is as bates soos eiendom of aandele verkoop word, is skerp verhoog.
Belasting op dividende is ook met 50% opgestoot, wat ’n negatiewe rekasie op die JSE Sekuriteitebeurs uitgelok het.
Die insluitingskoers waarteen kapitaalwinsbelasting op individue en spesiale trusts gehef word, word van 1 Maart van 25% tot 33,3% verhoog. Vir maatskappye en ander trusts is die koers van 50% tot 66,6% verhoog.
Mnr. Ernie Lai King, belastingdirekteur by die regsfirma ENS, sê rykes word ook geslaan deur hoër aksyns op luukse goedere soos vliegtuie, helikopters en bote wat in Oktober in werking tree.
Mnr. Derick Ferreira, bemarkingsbestuurder van Old Mu- tual, sê iemand wat R500 000 per jaar verdien sal 3,2% minder inkomstebelasting betaal danksy die belastingverligting, maar oorhoofse verskuilde belastings soos die brandstof- en sondebelastings, tolgeld, BTW en ander heffings beteken soveel as 62c van elke R1 van sy inkomste gaan na die staat.
Oor die algemeen is die begroting egter goed ontvang.
Ekonome is beïndruk deurdat Gordhan daarin geslaag het om die regering se skuldlas in toom te hou, te midde van die Europese skuldkrisis waar hoë staatskuld dreig om verskeie lande op hul knieë te bring.
Die begrotingstekort van 4,6% was laer as wat verwag is, terwyl die regering se skuld as persentasie van die Bruto Binnelandse Produk tot 33% gedaal het, vergeleke met Griekeland se 160% en Amerika se 102%.
Op dié wyse het Gordhan aan internasionale kredietgraderingsagentskappe gewys dat Suid-Afrika se geldsake nie op die punt is om hande uit te ruk, soos wat sommiges van hulle gesuggereer het nie.
Die ekonomie het ook ’n inspuiting gekry met infrastrastruktuurbesteding van R845miljard oor die volgende paar jaar en aansporings van R9,5 miljard vir die nywerheidsektor. Kleinsake word ook met belastingverminderings gehelp.
Maatskaplike toelaes, soos pensioene en kindertoelaes, is van R105 miljard tot R122 miljard verhoog en sowat 16 miljoen Suid-Afrikaners is nou van die toelaes afhanklik.
Gordhan het ook ’n nuwe manier aangekondig waarop mense belastingverligting vir hul bydraes tot siekefondse kry.
- Volksblad