Behuisingsprojekte verbind unie met mynfirmas
2012-08-26 00:06
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die National Union of Mineworkers (NUM), die grootste vakbond in Cosatu, doen graag sake met mynmaatskappye.
City Press, susterkoerant van Rapport, het vasgestel die NUM se eiendomsmaatskappy, Numprop, het deur verskeie behuisingsprojekte bande met minstens twee mynhuise: Xstrata en Harmony Gold.
Dít ondanks die NUM se bewering dat hy nié belê in sektore waarin hy werkers verteenwoordig nie om ’n belangebotsing te vermy. Die NUM het twee beleggingsmaatskappye: Numprop en die Mineworkers Investment Company (MIC). Albei word besit deur die NUM se Mynwerkersbeleggingstrust (MIT), waarvan sy topleiers trustees is.
Die trust is in 1995 gestig “om die lewensgehalte van sy lede en voormalige lede deur beleggingsgeleenthede te verbeter”. Numprop het sakebelange met Xstrata deur die Tubatse-landgoed, ’n behuisingsprojek in Burgersfort in Limpopo. Numprop is ’n mede-ontwikkelaar van dié projek wat glo R750 miljoen beloop.
Xstrata ontken hy is by die ontwikkeling betrokke, maar luidens die MIT se 2011-verslag is dié tender “deur Xstrata, waarin ons (Numprop) gekortlys is, toegeken”. Die NUM het nog by sy kongres in Mei aangevoer Xstrata is een van die “ergste werkgewers” ooit.
Die NUM het erg deurgeloop ná die Marikana-mynslagting weens indrukke dat hy noue bande met mynhuise het. Dít word beskou as een van die hoofredes vir die stigting van die splintervakbond Amcu, wat by platinummyne met die NUM om lede meeding.
Frans Baleni, hoofsekretaris van die NUM en voorsitter van die MIT, het aan City Press gesê die trust kan nie aan sy vennote voorskryf hoe om te belê nie.
Volgens hom is Numprop betrokke by behuisingsprojekte in myndorpe om hul lede se lewensgehalte te verbeter.
Numprop voorsien juis binnekort ’n vennootskap met Harmony Gold om sy mynhostels in gesinseenhede te omskep.
Die NUM het in 2011 bykans R209 miljoen van sy 310 820 lede ingevorder.