Bekende violis, broer sterf byna in koue
2012-07-03 12:07
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Marlene malan in Kaapstad
Een van Suid-Afrika se bekendste violiste het Vrydagnag byna verkluim toe sy en haar broer in die digte bosse in die berge naby George verdwaal het.
“Mammie, ek sterf!” het Avigail Bushakevitz (24) gisteroggend om 01:00 op haar selfoon aan haar ma geskree voordat die verbinding verbreek is.
Avigail het pas haar meestersgraad aan die Juilliard-musiekskool in New York verwerf.
Leonore Bushakevitz, haar ma, het gister aan Rapport gesê Avigail het Vrydagoggend saam met haar broer, Benjamin (27), in die Kaaimanskloof gaan stap.
Albei is stapentoesiaste.
“Hulle is met taamlik dun klere hier uit omdat dit so ’n lekker dag was. Hulle het net ’n waterbottel, ’n kamera en Benji se selfoon by hulle gehad.”
Omstreeks 20:00 Vrydag het hulle hul ma gebel en gesê hulle het verdwaal nadat hulle deur die donker oorval is.
By die Kaaimansrivier was die bosse was so ruig dat hulle niks kon sien nie, sê Leonore.
“Ek het dadelik die noodreddingsdienste in kennis gestel.
“Die swak selfoonsein het veroorsaak dat ons nie kon praat nie, maar eenuur die nag het Avigail my wel ’n laaste keer in die hande gekry en geskree sy gaan sterf.”
Volgens Leonore is dit ’n gebied met van die steilste rotse en digste bosse. “Hulle het in die rivierbedding opgeloop tot bo in ’n kloof.”
Heelbo moes hulle deur ’n sloep na veiligheid swem.
“In die nag kon hulle die honde en klank van die soekhelikopter hoor, maar die reddingspan kon hulle nie sien nie weens die ruie plantegroei.
“Avigail se langbroek was so nat dat sy dit moes uittrek weens die koue.”
Richard Botha van die noodreddingsdienste in George sê die soektog moes Vrydagnag laat afgelas word weens die donkerte en onbegaanbare omgewing.
Dit is gisteroggend vroeg hervat en Avigail-hulle is om omstreeks 08:00 gevind.
“Hulle het oorleef omdat hulle al die regte dinge gedoen het: Hulle het nie rondgedwaal nie en hulle het hulself so goed moontlik verwarm.”
Avigail Bushakevitz (24). | Foto: facebook