Bemagtiging: ‘Tronk toe as jy dit omseil’
2012-07-07 23:30
Grootbase van maatskappye wat nie aan wetgewing oor swart bemagtiging voldoen nie, kan tot tien jaar tronkstraf opgelê word of met tot 10% van hul jaarlikse omset beboet word.
Pres. Jacob Zuma het dit Vrydagaand gesê op ’n glansdinee van die Black Management Forum in Sandton.
Hy het bygevoeg die regering werk aan wetgewing om ekonomiese transformasie te verseker.
Volgens Zuma trek swart mense in Suid-Afrika ná 18 jaar van demokrasie ekonomies steeds aan die kortste ent. Zuma sê die wetgewing gaan magte aan die spesiale ondersoekeenheid gee om transformasie-oortredings in openbare en private maatskappye te ondersoek.
“Voorgestelde strawwe vir enigiemand in maatskappye wat hul swartbemagtigingstatus wanvoorstel, sluit in tronkstraf van tot tien jaar en boetes van tot 10% van daardie maatskappy se jaarlikse omset.”
Mac Maharaj, Zuma se woordvoerder, het gister aan Rapport gesê die vonnis en boete waarna Zuma in sy toespraak verwys het, sal deel wees van die Wysigingswet op Breëbasis- Swart Ekonomiese Bemagtiging (BBSEB) waaraan daar tans nog geskaaf word.
“Dit is gegrond op raad van die presidensiële swartbemagtiging-adviesraad en die doel daarvan is om dade wat rookskerms is vir swart bemagtiging, teen te werk.”
Rapport verneem die wysigingswet dien tans voor die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac).
Zuma het ook Woensdag op die beraad oor sosiale kohesie in Soweto gesê die regering se sosiaal-ekonomiese transformasieprogram is ’n sentrale bousteen van nasionale versoening, nasiebou en sosiale kohesie.
Gesprekke oor grondeienaarskap en groter ekonomiese deelname deur swart mense het oorheers op dié beraad, wat deur honderde mense van oor die land bygewoon is.
Joel Netshitenzhe, ’n lid van Zuma se nasionale beplanningskommissie, het gesê sosiale kohesie is net haalbaar as armoede en ongelykheid aangepak word.
“Die regering het ’n belangrike rol om te speel, maar dit sal die deelname van alle sektore vereis. Ons het egter ook leiers nodig wat ongewilde besluite aan hul ondersteuners kan oordra.”
Kwessies soos grondhervorming, ekonomiese ongelykheid, maatskaplike interaksie en diskriminasie is in talle kommissies by die beraad gedebatteer.
In die kommissie oor grondhervorming het Golden Miles Bhudu, ’n aktivis vir die regte van gevangenes, gesê dit is “?’n feit dat swart mense se grond destyds van hulle gesteel is”.
“Ons sit hier met ’n tydbom wat dreig om te ontplof. As ons nie ’n Arabiese Lente oor grond in Suid-Afrika wil sien nie, moet die grondkwessie aandag kry.”
Volgens Thoko Didiza, ’n oudminister, is grond ’n baie emosionele aangeleentheid en ’n nasiebou-beraad is nodig om die geskiedenis “reg te stel”.
Adv. George Bizos, menseregte-aktivis, het gesê dit is hartseer dat regeringsamptenare en politici die Grondwet gebruik om mense oor grondhervorming te mislei.
“Ons bly in ’n grondwetlike demokrasie. Ons gaan nie mekaar help as ons mekaar name soos diewe en grondgrypers noem nie. Om te dreig om die Grondwet te verander vir grondhervorming gaan ons nie help om ’n oplossing te vind nie.”
Volgens Wouter Wessels van die VF+ is grondhervorming inderdaad belangrik.
“Ons maak egter van grondhervorming ’n rassekwessie. Dit is onwaar dat die meeste grond in Suid-Afrika (87%) in wit mense se hande is.
“Daarom is dit noodsaaklik om ’n grondoudit te hê.”