Bid vir die sataniese rockfees RAMFest, vra e-pos
2012-02-18 22:53
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
’n Ketting-e-pos wat die gewilde RAMFest van satanisme beskuldig, het glo daartoe gelei dat die organiseerders inderhaas ’n nuwe terrein in Bloemfontein moes soek nadat Kovsies se joolplaas onttrek is.
Die naamlose e-pos het in Bloemfontein ontstaan en beskuldig die organiseerders daarvan dat hulle “oorsese okkultiese en sataniese musiekgroepe bring vir die fees”.
Dit lui onder meer: “Hierdie fees word deur sataniste en ’n illuminati-beweging georganiseer! ’n Mens hoef net na die RAMfest se embleem te kyk om die okkultiese tekens te sien.”
Die organiseerders glo dis oor dié e-pos dat die Universiteit van die Vrystaat (UV) onttrek het. Die UV sê egter dis bloot omdat die regte protokol nie gevolg is nie.
In die e-pos word mense gevra om saam te bid teen die rockfees wat op 3 Maart gehou word.
RAMfest het ses jaar gelede in Kaapstad begin en so vinnig uitgebrei dat dit vanjaar ook vir die derde keer in Johannesburg en die tweede keer in Durban aangebied word. Bloemfontein en Port Elizabeth is nou vir die eerste keer deel van die fees.
Mnr. Dawid Fourie, die hooforganiseerder, sê die bedoeling is geensins om mense oor die afgrond te lei nie.
“Dis suiwer ’n rock ’n’ roll-fees wat ons aan die gang probeer kry op ’n internasionale standaard.
“Mense sal egter Satan oral kry waar hulle hom soek.”
Fourie sê hy het reeds R80 000 verloor omdat hy pamflette moes oordruk en TV- en radio-advertensies moes laat oormaak.
“Alles was gereed vir die Kovsie-joolplaas, wat 3 000 mense kan huisves.
“Gelukkig het die Mystic Boer ons met ope arms ontvang. Maar hulle kan net 800 mense huisves,” sê Fourie.
Me. Kabous Meiring, wat tot onlangs die waarnemende bestuurder van studentemedia was waaronder Kovsie FM val, sê Kovsie FM was baie opgewonde oor die fees.
“Ons het die joolplaas vir die fees bespreek, maar weens onkunde nie al die regte vorms ingevul nie. Ons het dus nie die regte prosedures gevolg nie.
“Kovsie FM is mal oor rock-konserte; universiteite is mal oor protokol. Bloemfontein kan doen met ’n goeie rock show.”
Sy is net so uit die veld geslaan oor die e-pos en sê sy kan nie glo mense wil oor sogenaamde satanisme die fees kelder nie.
Mnr. Rudi Buys, die dekaan van studentesake, sê die UV het nie goedkeuring gegee vir die aanbieding van RAMfest op die Bloemfontein-kampus nie.
Fourie sê hy is vasbeslote om volgende jaar wéér RAMfest na Bloemfontein te neem.
RAMfest word op 2 Maart in Port Elizabeth, 3 Maart in Bloemfontein, 9 Maart in Durban, 10 Maart in Johannesburg en 11 Maart in Kaapstad gehou.
Van die internasionale groepe wat in Kaapstad en Johannesburg in aksie gaan wees, is In Flames (Swede), Awolnation (Amerika), Infected Mushroom (Israel) en Netsky (België).
Die lys van groepe wissel vir die ander stede.