Bloeddiens gedagvaar oor poste
2012-09-16 00:27
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Julian Jansen in Kaapstad
Die vakbond Solidariteit het hofstukke aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANB) beteken waarin die arbeidshof gevra word om te sê of die bloeddiens sekere rasgroepe mag verbied om vir vakante poste aansoek te doen.
Die vakbond tree op namens twee bloeddiens-werknemers, Theodore Reyneke en Sanet Schönfeldt, wat onderskeidelik 27 en 23 diensjare ervaring het.
Hulle mag glo nie vir vakante poste in die bloeddiens aansoek doen nie omdat slegs swart Suid-Afrikaners aansoek kan doen.
Die bloeddiens het met ’n strategie begin ingevolge waarvan wit werknemers bo 55 skeidingspakkette aangebied is.
Sodoende is 13 vakatures geskep en dié poste word slegs vir swart werknemers geadverteer.
Solidariteit se aansoek volg op die onlangse herrie toe Woolworths advertensies vir vakante poste geplaas het wat slegs vir swart Afrikane oop is.
Solidariteit wil in die komende week ’n hofbevel bekom om die bloeddiens te keer om die poste te vul terwyl die hofsaak aan die gang is.
Dr. Dirk Hermann, die adjunk- uitvoerende hoof van Solidariteit, sê die “Woolworths-beginsel”, ingevolge waarvan mense nie vir poste aansoek kan doen tensy hulle aan ’n bepaalde ras behoort nie, moet in die hof getoets word.
“As ons saak teen die bloeddiens slaag, sal ons ’n presedent skep wat sal geld vir Woolworths en alle ander maatskappye wat absolute uitsluiting op grond van ras toepas,” sê Hermann.
Die bloeddiens het nie op navrae gereageer nie.