Boek onthul teologiese stryd by universiteit
2011-05-21 23:12
Het Jesus regtig uit die dood opgestaan, of moet dit as metafoor verstaan word?
Wat van die maagdelike geboorte?
En bestaan die duiwel?
Dis nie net die aanvaarding of negering van dié drie kwessies wat die doktorale teologiestudent Ferdie Mulder in sy eerste boek, Opgestaan, bespreek nie, maar hy vertel ook hoe sy oortuiging daaroor ses jaar gelede uitgeloop het op sy skorsing as meestersgraadstudent uit die teologiese fakulteit van die Universiteit van Pretoria (UP).
Opgestaan verskyn aanstaande maand in Suid-Afrika, maar maak reeds opslae.
Die gebeure in 2005, waaroor senior teologielektore van die universiteit voor rings- en interne universitêre ondersoeke gedaag is, vertel volgens Opgestaan se omslag “aangrypende, maar ook skokkende verhale van sommige studente se ontnugterings, dosente se uitsprake, en ook die kontroversie rondom die gewraakte petisie waarin ’n groep studente Jesus se liggaamlike opstanding bely het”.
“Mulder, die inisieerder daarvan, is uiteindelik deur die NG Kerk verbied om predikant te word en lewenslank uit Tukkies se fakulteit teologie geskors nadat hy tydens dissiplinêre verhore skuldig bevind is.”
Die uitgewer bestempel die boek voorts “as ’n uitdaging aan die leser om sy of haar eie posisie aangaande Jesus se opstanding te heroorweeg en is ’n aangrypende getuienis van hoe die krag van God, wat Jesus uit die graf opgewek het, vandag nog met ons is om hoop, vergifnis en versoening te bewerk”.
Opspraakwekkende getuienis wat tydens die onderskeie verhore na vore gekom het, word in die boek bespreek, het Mulder aan Rapport gesê.
“Volgens ooreenkoms met Tukkies se kuratorium word geen van die vertroulike dokumente wat vir die verhoor beskikbaar gestel is, in die boek vervat nie.”
Volgens Mulder “vertel Opgestaan wat met Afrikaanse teologiese opleiding tussen 2000 en 2006 gebeur het wat die verstaan van die opstanding van Jesus betref”.
Ds. Jaco Thom, predikant van die NG Toringkerk in die Paarl en bekende skrywer van teologiese werke, onderskryf die boek so: “… As Luther bykans vyf eeue gelede gesê het: ‘Hier staan ek; ek kan nie anders nie,’ is dit een ding, maar as ’n teologiestudent vandag nog genoop voel om dit te doen, móét die gevaarligte helder brand.”
Mulder sê benewens die vertelling oor sy ervaring by Tukkies en sy innerlike stryd hieroor, “is daar ’n versoeningslyn in die boek”.
“Ek het ook foute gemaak. Ek moes dinge dalk anders gesê het. Ek het al my foute tydens die gebeure raakgesien en bely. Maar ek staan by my oortuigings.
“Oor jare het ek baie versoeke gekry om ’n boek oor die gebeure by Tukkies te skryf. Ek hoop die krag van versoening, vergifnis en hoop word, soos vir my, ook vir die NG Kerk en Tukkies gegee.”
Tuks sê:
Prof. Johan Buitendag (dekaan van die UP se fakulteit teologie) en prof. Julian Müller (adjunkdekaan) het so gereageer:
* Ons is nie bewus van so ’n boek nie en verkies om nie te reageer op die inhoud van ’n boek voordat dit gepubliseer is en ons dit kon lees nie.
* Volgens inligting aan ons voorsien (deur Marlene Malan van Rapport) word daar in die beoogde boek kommentaar gelewer op uitsprake en getuienis wat tydens twee amptelike ondersoeke gemaak is. Dit was die ringsondersoek deur die NG ring van Pretoria-Oos (2005-’06), na aanleiding van klagtes wat mnr. Mulder gelê het teen prof. Julian Müller en twee ander kollegas.
Die volledige uitslag van daardie ondersoek word in Julian Müller se boek Om te mag twyfel op bl. 73-81 woordeliks gerapporteer. Mnr. Mulder se klagtes is afgewys.
* Die ander ondersoek was ’n dissiplinêre ondersoek deur die UP op grond waarvan mnr. Mulder skuldig bevind is en as student van dié universiteit geskors is. Rig navrae oor daardie ondersoek en die amptelike uitslag aan die registrateur van die UP, prof. Niek Grové.
* Daar was ’n derde ondersoek deur die kuratorium van die NG Kerk, wat toesig hou oor die dosente en studente van die fakulteit teologie aan die UP. Op grond daarvan is mnr. Mulder geskors as teologiestudent van die NG Kerk.
Mulder se prestasies oorsee
* 2009: Gekeur om by die Universiteit van Durham ’n tweede meestersgraad te doen
* Sedert Maart 2010 aangestel as PhD-kandidaat en lektor in Nederland en doen deeltydse navorsing by Tyndale House in Cambridge
* Verantwoordelik vir sowat 30 eksterne PhD-teologiestudente van oor die wêreld;
* Onlangs gekies om die Cambridge Scholars Network by te woon – op uitnodiging van top-PhD-studente
* Genooi om later vanjaar ’n voordrag te lewer by die St. Andrews-universiteit