'Boetman was verkeerd – Angola was nié verniet’
2010-02-06 23:17
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die opofferings van die veiligheidsmagte in die Angolese grensoorlog was nie verniet nie, want dit het suksesvolle grondwetlike onderhandelings moontlik gemaak, meen oudpres. FW de Klerk.
Dit was Dinsdag by die Kaapstadse burgersentrum, tydens die herdenking van die toespraak wat Suid-Afrikaanse demokratisering op 2 Februarie 1990 ingelui het, duidelik dat sekere kritiek aan De Klerk vreet.
In ’n stem wat plek-plek van emosie deurgeslaan het, het hy sy toespraak begin deur te sê hy en sy mede-onderhandelaars het nie, soos soms deur veral Afrikaanse kritici beweer word, gekapituleer nie.
“Wyle Chris Louw was verkeerd: Die opofferings van die veiligheidsmagte was nie verniet nie,” het De Klerk gesê.
Hy het eweneens die persepsie aan die linkerkant getakel dat hy en sy regering bloot deur sanksies en internasionale isolasie gedwing is om, bykans willoos, die noodwendige te doen.
“Geregtigheid vir almal het ons te alle tye gerig. Ons is aangevuur deur die morele onverdedigbaarheid van ons situasie, en deur die geleenthede wat daardie tyd aan ons gebied het,” het hy aangevoer.
“Ons sou ongetwyfeld jare lank nog aan die bewind kon bly, maar onder ál erger omstandighede. Ons jong mans sou die helfte van hul lewe lank diensplig gedoen het en die kans op ’n vreedsame oplossing sou met elke siklus van revolusie en onderdrukking vervaag.
“Daar is ook baie blankes wat aanvaar verandering moes kom, maar wat meen Roelf Meyer en ek het Cyril (Ramaphosa van die ANC) en sy kollegas toegelaat om ons ore aan te sit.
“Hulle hou vol die NP moes om ’n soort minimum veto onderhandel het. Laat ek hulle verseker: Dit sou nie polities moontlik of internasionaal aanvaarbaar gewees het nie.”
In ’n opmerking wat sommige van sy ondersteuners sal verbaas, het De Klerk die bloedige noodtoestand van die 1980’s verdedig as noodsaaklik om die land se veiligheidstoestand te stabiliseer.
Hy meen die enigste punt van waarde waarop die NP in die grondwetlike onderhandelings misluk het, was hul voorstel vir voortgesette magsdeling tussen die groot partye op kabinetsvlak.
Hiervoor het hy die IVP en “die voorganger van die DA” geblameer. Dié uitspraak het me. Helen Zille, DA-leier en genooide spreker, op haar horlosie laat kyk en haar papiere hoorbaar laat rondskuif.
- Rapport