Bok-afrigter: Dis Heyneke!
2012-01-22 11:08
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Heyneke Meyer en Jurie Roux, die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), het gister in Pretoria vergader in aanloop tot Vrydag se bekendmaking van die nuwe Springbok-afrigter.
Rapport het op goeie gesag verneem die voormalige afrigter van die Bulls en rugbyhoof van die Blou Bulle-unie is in gesprek met Saru om sy kontrak as Springbok-afrigter te finaliseer.
Hierdie ontmoeting, ses dae voor Saru in Kaapstad die aanstelling van die nuwe Bok-breier bekend maak, is ’n deurslaggewende rigtingwyser dat Meyer in die pos aangestel is.
Die proses is al geruime tyd aan die gang om ’n geskikte opvolger vir Peter de Villiers te vind, maar dit blyk dat Saru se groot geheim nou uit is dat die 44-jarige Meyer aan die hoof van die Springbokke se afrigtingspan sal staan.
Saru het, anders as met vorige aanstellings van die nasionale breier, dié keer self kandidate genader. Roux is saam met ’n tegniese komitee die taak opgelê om ’n afrigter te vind wat Bok-rugby weer sy pronk kan teruggee.
Die afgelope week is gesê dat De Villiers moontlik vir ’n tydperk as Bok-breier sal aanbly tot tyd en wyl probleme met kontraktuele verpligtinge van die kandidate vir die pos opgelos is.
Rapport se inligting is dat Meyer en die Bulle-unie tot ’n vergelyk kon kom oor sy kontrak-vrystelling, hoewel daar steeds ’n bedrag vir skadevergoeding aan die unie betaalbaar sal wees.
Daar is wel glo ongelukkigheid by sommige direksielede van die Blou Bulle Maatskappy (BBM) omdat Meyer, wat minder as ’n jaar gelede in sy nuwe pos aangestel is, nou die nasionale span gaan afrig, maar die breier het al by vorige geleenthede nee gesê om die Bokke af te rig en by die Bulle aangebly.
Met De Villiers se aanstelling in 2007 as Jake White se opvolger was Meyer die aanvanklike groot gunsteling vir die pos. Saru het egter verras met De Villiers se aanstelling. As Meyer Vrydag aangestel word, sal hy sedert John Williams die eerste afrigter van die Bulle-unie wees wat die Bokke afrig.
Williams was die Springbok-afrigter met die Springbokke se hertoetrede tot toetsrugby in 1992 toe die Bokke vir die eerste keer ’n toets teen Frankryk in Frankryk verloor het, ’n rekordnederlaag teen Australië gely en in toetse teen die All Blacks en Engeland verloor het.