Breëband binnekort blitsig
2012-07-07 23:32
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Telkom se ADSL-gebruikers kan van Augustus af uitsien na aansienlik vinniger breëband-internetdienste.
Hoewel Telkom die huurprys van sy telefoonlyn én van ADSL oor ’n maand met 6% gaan opstoot, is daar ook ’n troosprys: Sy vastelyn-breëbandgebruikers se lynspoed word opgegradeer sonder dat dit hulle meer sal kos.
Telkom gaan sy internetspoed van 384 Kbps skrap.
Kliënte op die bestaande 384 Kbps-pakket sal outomaties tot 1 Mbps verhoog word en 1 Mbps-gebruikers tot 2 Mbps.
Die aanpassing tree van begin Augustus af in werking terwyl Telkom sy netwerk landwyd opgradeer.
Dit sal meebring dat data en lêers vinniger van die internet af- of opgelaai kan word.
Onbeperkte toegang teen ’n spoed van 1 Mbps kos dan R420 per maand en R895 per maand vir ’n spoed van 2 Mbps. Dit sluit nie die huur van ’n telefoonlyn in nie.
Telkom het die laaste tyd miljarde rande bestee om sy vastelyn-netwerk op te gradeer. Dit bestaan nou uit 143 000 km se veseloptiese kabels wat tot op residensiële vlak uitgebrei is.
Telkom se oproepkoste styg op 1 Augustus met gemiddeld 1,2%. Die koste van landlyn-na-selfoon-oproepe word met 3,6% gesny tot R1,35 per minuut in spitstyd en R1,08 buite spitstyd.
Die installasiekoste van ’n lyn is ook met 6% verhoog.
Pynee Chetty, Telkom se woordvoerder, sê danksy verbeterde netwerkvermoë kan Telkom nou vinniger breëbanddienste teen goedkoper pryse lewer.
Die telekommunikasiereus kom wel uit verskeie oorde onder skoot vir die algemene prysverhogings.
Dit help nie Telkom stel goeie produkte bekend, maar verhoog terselfdertyd sy pryse in ’n mark waar daar geweldige mededinging is nie, sê Arthur Goldstuck van die navorsingsmaatskappy World Wide Worx.
Telkom sukkel al jare om met die selfoonmaatskappye mee te ding wanneer dit kom by internetgebruikers. Dit help nie hulle verhoog aanhoudend hul pryse nie, sê hy.