Brein skuif ná polisielid slaan
2012-10-15 06:37
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
’n Polisielid het die seun van Douglas Gibson, oud-DA-hoofsweep en gewese ambassadeur in Thailand, so erg aangerand dat sy brein geskuif het nadat hy ’n sypaadjie getref het.
Donald Gibson (36), ’n dosent en sakeman van Greenside, Johannesburg, het kop eerste op die grond beland, het Gibson sr. gistermiddag aan Rapport gesê.
Gibson sr. sê sy seun en vriende het verlede Saterdag die Springbokke en Nieu-Seeland se wedstryd in die ENB-stadion in Soweto bygewoon.
“Hulle het uit die stadion na hul voertuie gestap toe die deur van ’n polisievoertuig wat verbygery gekom het skielik afval.
“Hulle het gelag en grappe begin maak waarna die een man wat óf ’n polisiereservis óf ’n polisieman is, uitgeklim en my seun hard op die ken geslaan het.
“Hy het agteroor geval en kop eerste die betonrand van die sypaadjie getref,” sê hy.
Sy seun het ’n ruk lank bewusteloos op die grond gelê en volgens sy vriende het dit gelyk asof hy dit nie gaan maak nie.
Hy is eers na die Flora-kliniek geneem waar ’n breinskandering gedoen en sy toestand gestabiliseer is. Hy is later na die Fourways-hospitaal oorgeplaas.
Die polisie wil nou uit selfoonfoto’s wat sy vriende en ooggetuies van die voorval geneem het, vasstel wat presies gebeur het.
James Henry, een van Gibson se vriende, het al ’n verklaring by die Parkview-polisiekantoor afgelê, het kol. Nanda Moodley, stasiebevelvoerder van dié polisiekantoor, bevestig.
“Donald praat baie min,” sê sy pa. “Hy onthou niks van die voorval nie. Hy verduur baie pyn. Ons familie besoek hom drie keer per dag. Ons hoop dat my seun vinnig gaan herstel.
“Die saak word ondersoek. Ek het verskeie mense in die DA wat my help om toe te sien dat hierdie ding vinnig afgehandel word,” sê Gibson.
Sapa berig Moodley sê die saak moet na die Booysens-polisiekantoor oorgeplaas word omdat die stadion in dié jurisdiksie val.