Brink: ‘agendas en - helaas - afguns’ is rede vir debat
2009-12-12 22:15
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die skrywer André P. Brink, wat die afgelope week ’n herrie moes deurstaan rondom sy ontvangs van die Jan Rabie en Marjorie Wallace-skrywersbeurs, het teruggekap na dié wat hom hiervoor verkwalik.
Brink het voorverlede week dié beurs van R350 000, geadministreer deur die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), ontvang. Die beurs laat die wenner toe om ’n jaar lank te fokus op die skryf van ’n roman.
Verskeie meningskrywers het die afgelope week teen Brink losgetrek oor sy aansoek vir- en aanvaarding van die beurs. Hulle meen die beurs moes aan ’n jong skrywer, verkieslik bruin en verkieslik uit “minder gegoede” omstandighede afkomstig wees.
Brink het Vrydag eksklusief aan Rapport gesê dit is “duidelik dat die beswaar eintlik teen die kleur van my vel en/of my gewaande ‘bevoorregte’ ekonomiese posisie gerig is.
“Oor die kleur as sodanig het ek alreeds gesê dat ek eerlik sou hoop dat ons teen dié tyd by hierdie benouende apartheidsdenke verby is.”
Hy sê die reglement van die beurs het dit pertinent uitgespel dat die wedstryd bedoel is vir ’n belowende skrywer óf ’n skrywer van aansien.
“Ek was nog nooit ten gunste van regstellende aksie nie, veral in die sakewêreld, wanneer dit nie gaan om verdienste nie maar om ’n politieke gebaar: uiteindelik word so iets ’n belediging vir álmal wat daarby betrokke is...”
Brink wys ook daarop dat hy allermins die enigste gevestigde skrywer is wat om die beurs aansoek gedoen het.
“Ongelukkig is hierdie hele debat totaal onnodig vertroebel deur mense met verskuilde agendas, irrasionele motiewe en – helaas – doodgewone afguns.”
Prof. Steward van Wyk, voorsitter van die UWK se departement Afrikaans en Nederlands en een van die keurders, sê “10 tot 15” van die 92 aansoeke wat ontvang is, was van gevestigde of bekende skrywers afkomstig.
Hierteenoor sê hy ongeveer ’n derde van die aansoeke het van jonger skrywers met min publikasies agter hul naam gekom.
Hy en die skrywers E.K.M. Dido en Chris Barnard het as keurders opgetree. Hul besluit was eenparig.
Van Wyk sê die beurskomitee wil moontlik deur regskanale werk om die kriteria minder “vaag” te maak.
Brink se beoogde roman heet voorlopig Philida en sal afspeel teen die agtergrond van slawerny in die 19de eeu in die omgewing van Franschoek.
Prof. Brink se volledige antwoorde op Rapport se vrae
Rapport: Wat lê volgens jou aan die kern van meningskrywers soos
Zelda Jongbloed se ontevredenheid met jou aanvaarding van die beurs?
Brink:
Ek vind dit byna onmoontlik om te sê wat myns insiens die “kern” van
die dame se betoog is omdat die aanval so verwarrend en vol
teenstrydighede is dat dit moeilik is om veel helderheid of logika
daarin te soek. Ek mag bysê dat verskeie van haar redaksielede my die
afgelope week per e-pos, SMS of telefoon van hul ondersteuning en
begrip verseker het. Ek probeer in ieder geval my bes.
Ek
is bereid om dit hierdie één keer aan te spreek, ter wille van die paar
mense wat dit in hierdie debat ernstig en eerlik bedoel; en dan nie
weer nie.
Dan moet ek reguit sê dat daar tot dusver
veral twee motiewe agter die kampanje duidelik word: ongelukkig is dit,
ten spyte van al die vroom ontkennings en stofstrooiery, duidelik dat
die beswaar eintlik teen die kleur van my vel en/of my gewaande
“bevoorregte” ekonomiese posisie gerig is.
Oor die kleur
as sodanig het ek alreeds gesê dat ek eerlik sou hoop dat ons teen dié
tyd by hierdie benouende apartheidsdenke verby is.
Ek dink
ek het Jan en Marjorie in die meer as vyftig jaar van ons vriendskap
goed genoeg leer ken om hulle oortuiging oor kleur volledig te deel; in
my skryfwerk het ek oor daardie halfeeu oor en oor die lot van die
bruin en/of swart mens in Suid-Afrika sentraal in die kollig gestel en
my voortdurend by die apartheidsowerheid in gevaar gestel deur my met
die miskende en onderdrukte meerderheid Suid-Afrikaners téén die blanke
oorheersers te vereenselwig.
Dit het in Houd-den-Bek
spesifiek teen die agtergrond van slawerny gebeur en in my nuwe roman,
Philida, hoop ek om daarop voort te bou. Maar dit het nie net in my
werk gebeur nie.
Ook rondom my boeke het ek oor baie
jare talle en talle bruin en swart beginnerskrywers, swart, bruin en
wit, bygestaan – met hulp, redigeerwerk, raad, bystand (ook geldelik)
en meelewing – en hulle gehelp om hul manuskripte persklaar te maak en
in verskeie gevalle uiteindelik te laat publiseer.
Toe
ek self ’n beginner was, het dit meermale gebeur (veral waar dit om die
CNA-prys gegaan het) dat een van my werke moes meeding met skrywers
soos Eybers, Van Wyk Louw of Opperman – en dan het ek gereeld uitgeval
en hulle het gewen. Ek kan my nie herinner dat ek enigeen van hulle dit
ooit verkwalik het dat hulle beskou is as beter as ek nie.
Hulle
wás, en ek het hulle gegun wat hulle verdien. (En vir die
Rabie/Wallace-beurs het ek self ’n “opkomende skrywer” bygestaan om te
help met die aansoek – en ek sou van blydskap gehuppel het as dié
kandidaat gewen het.)
Rapport: Dink jy hierdie soort kommentaar is op enige manier geregverdig?
Brink:
Sulke kommentaar is alleen geregverdig as daar klaarblyklik ’n
mistasting of bevooroordeeldheid by die beoordeling was. In hierdie
geval het die UWK uit sy pad gegaan om te sorg vir ’n onbevooroordeelde
waarde-oordeel deur drie onafhanklike keurders onder toesig van ’n
komitee (en laat ons asseblief in gedagte hou dat hul oordeel, oor meer
as negentig inskrywings, eenparig was).
Ek was nog nooit
ten gunste van regstellende aksie nie, veral in die sakewêreld, wanneer
dit nie gaan om verdienste nie, maar om ’n politieke gebaar:
Uiteindelik word so iets ’n belediging vir álmal wat daarby betrokke is
– baie spesifiek vir die persoon wat glo die “voordeel” daaruit moet
trek, maar ook vir die welbedoelende toepassers van die beleid.
By
die beoordeling van die literatuur behoort presies dieselfde te geld.
(Of ek sélf in die omstandighede liewer nie moes aansoek gedoen het
nie?) Die reglement van die beurs het dit pertinent uitgespel dat die
wedstryd bedoel is vir “?’n belowende skrywer” óf “skrywer van aansien”
– en deelnemers is pertinent versoek om hul “rekord as skrywer” uiteen
te sit. Ons is dus gevra om ervaring en erkenning by die aansoek te pas
te bring.
Ek weet uit persoonlike navrae dat dit presies
was wat Marjorie met haar testament in gedagte gehad het. Sowel in die
testament as in die reglement wat vir die beurs gepubliseer is, word
dit uitdruklik uitgespel dat die toekenning bedoel is vir die beste
kandidaat, nie vir enigiemand met dié of dáárdie agtergrond nie.
Daar
was nêrens bymotiewe nie. Dit het uitsluitlik gegaan om gehalte – en
juis om daardie rede weet ek dat daar verskeie gevestigde skrywers
deelgeneem het – verreweg nie net ek nie!
Vir my lê die
waarde van die toekenning verál daarin dat dit afkomstig is van twee
mense wat ek so goed geken het en met wie ek soveel jare soveel van my
lewe gedeel het (sedert ons eerste ontmoeting teen 1956, totdat Jan my
teen die einde van sy lewe gevra het om sy Paryse dagboek persklaar te
maak en Marjorie my genooi het om haar laaste retrospektiewe
uitstalling te open).
Wat my finansies betref, gaan dit
regtig niemand behalwe myself aan nie! Al wat ter sake is, is dat ek my
hele lewe lank gewerk het om elke sent te verdien wat ek uit skryf
gemaak het – daar was nêrens meevallers of hulp van buite nie. (Behalwe
één keer, dertig jaar gelede, toe ek Rapport se blokkiesraaisel gewen
het.)
Ek weet van ’n hele paar jong skrywers wat
finansieel beter daaraan toe is as ek; en al wat ek my kan verwerdig om
daarby te sê, is dat ek meer as genoeg rede gehad het om aansoek te
doen. (Die klaarblyklik afgunstige siel wat uitgewei het oor my
beweerde besoek aan Wene om ’n opera by te woon, het byna al haar feite
verkeerd. En ek kan nie iemand ernstig opneem wat klaarblyklik nie weet
waarvan sy praat nie.)
Ongelukkig is hierdie hele debat
totaal onnodig vertroebel deur mense met verskuilde agendas,
irrasionele motiewe en – helaas – doodgewone afguns. Dáármee kan en wil
ek nie in gesprek tree nie.
Rapport: Jou
beoogde tema vir die boek is diep bemoeid met slawerny en die lot van
“minder gegoede’’ mense in ons land se geskiedenis. Sou jy sê dat die
beoogde boek self so sterk oor die onregte van?die verlede (en die
geïmpliseerde hede) spreek dat dit op sigself eintlik ’n boek is wat
die saak aanroer en dat die naam van die skrywer dus onbelangrik is en
die boek self eintlik die beursontvanger is? Dalk kan jy uitbrei oor
hoe jy hierdie verhouding beskou.
Brink: Ja, ek is oortuig
daarvan dat hierdie beurs baie duidelik gefokus word op die produk wat
daaruit moet voortkom. En daaroor kan mense eers werklik besluit
wanneer die projek mettertyd voltooi is en gepubliseer word.
Die
hele onderneming is ingestel op wat daaruit mag spruit, dit wil sê uit
die gehalte van die voorlegging oor die projek wat beoog word. En
daardie produk is uit die staanspoor ingestel op ons slawegeskiedenis:
dus op die mense uit wie vandag se bruin Suid-Afrikaners gebore is en
wat aan die Afrikaanse taal sy eerste beslag gegee het.
Dwarsdeur my hele loopbaan as skrywer was dit die geval, en ek het dit
in my voorlegging aan die UWK duidelik gemaak in watter mate dit ook in
die nuwe roman sal gebeur. En ek het meer as genoeg skriftelike
getuienis van Jan (en skilderye van Marjorie) om hul waardering
daarvoor te staaf.
Rapport: Laastens: Jy was
self welbekend met Jan en Marjorie. Sekere briefskrywers?reken?hulle
“draai in hul grafte om’’ oor die toekenning van die beurs. Jy het
hulle immers persoonlik geken – kan jy asseblief lig werp hierop en
eerder die beurs soos vervat deur die gees van Jan en Marjorie
verduidelik?
Brink: Ek meen, met alle respek, dat nie een
enkele van die mense wat tot vandag toe oor die toekenning gekla het
(en dit sluit die belastingbetalers van Vermont in) vir Jan en Marjorie
so lank geken het as ek nie. Dit gaan by almal, soos Joan Hambidge al
gesê het, om “persepsies”, nie om “feite” nie.
Ek het
Jan en Marjorie as intieme vriende ’n halfeeu lank liefgehad. Ek sou
nooit énigiets gedoen het wat aan daardie vriendskap onwaardig sou wees
nie.
Ek wens dat vandag se luidrugtige beswaarmakers dieselfde sou kon sê.
- Rapport