Bul pak spanmaat oor taal
2012-02-21 09:39
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die Bulls-flank CJ Stander het sy spanmaat Adri Jacobs ná ’n woordewisseling verlede week katswink geslaan nadat dié glo “slegte taal” voor vroue gebruik het.
“Hulle ken mekaar al jare lank en is eintlik boesemvriende.
“Ons het Vrydag ’n interne tugverhoor gehad, maar die twee het lankal vrede gemaak en blad geskud,” het mnr. Barend van Graan, uitvoerende hoof van die Blou Bulle Maatskappy (BBM), gister gesê.
Stander sal waarskynlik Vrydag vir die Bulls in die Superreeks teen die Sharks debuteer nadat die flank Dewald Potgieter se arm die naweek by ’n troue deur ’n vensterruit oopgesny is.
Potgieter sal ses weke buite aksie wees en daar word verwag dat Stander in sy plek as flank sal uitdraf.
Die onderonsie tussen Stander en Jacobs, wat mekaar al lank ken en saam vir die Suid-Afrikaanse o.20- en die Blou Bulle se o.19- en o.20-span gespeel het, was Dinsdag voor die Trademarx-restaurant langs die Loftus Versfeld-stadion.
“Die Bulls se voorspelers het tydens ’n Valentynsgeleentheid krieket teen die agterspelers gespeel,” het Van Graan gesê.
“Adri het na bewering in die teenwoordigheid van dames slegte taal gebruik, wat CJ aanstoot gegee het.
“CJ het Adri gevra om dit nie te doen nie en daar was ’n woordewisseling tussen die twee.”
Daar was glo ’n stampery en Stander het Jacobs met ’n enkele hou geslaan, waarna Jacobs glo ’n paar sekondes “deurmekaar” was.
“Die spelers het onmiddellik daarna vrede gemaak,” het Van Graan gesê.
“Die BBM het reeds tugstappe gedoen.
“Die tugstappe was ’n interne proses waarop ons nie verder kommentaar wil lewer nie.”
Jacobs se enkel is dieselfde aand, kort ná die onderonsie met Stander, beseer en hy sal gevolglik vir ses tot agt weke buite aksie wees.