Bulle slagpale toe; Nuweland reg vir ’n riller
2012-07-23 05:52
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die ou vraag van wat gebeur as ’n onstuitbare krag ’n onbeweeglike voorwerp teëkom, sal Saterdag op Nuweland beantwoord word wanneer die Sharks die Stormers in Superrugby se halfeindronde aandurf.
Dis ’n Nuwelandse riller-stryd tussen twee Suid-Afrikaanse spanne met die voorspelbare uitkoms dat een plaaslike span klaar seker is van ’n plek in die eindstryd van die Super-reeks.
Die Sharks het hul vorm gevind toe dit saak maak en die Reds gister in Brisbane gemaklik met 30-17 afgestof.
Die ander halfeindstryd sal ’n Nieu-Seelandse derby wees, met die Crusaders wat die Chiefs in Hamilton sal pak nadat hulle die Bulls gister met 28-13 slagpale toe gestuur het.
Een man wat onder g’n illusies verkeer dat die Sharks Saterdag ’n paar moeilike vrae van die Stormers se snoep verdediging sal vra nie, is die Kaapse streekspan se afrigter, Allister Coetzee.
Coetzee se griep was gister drie dae oud en hy is bra verlig dat hy môre perdfris sal wees vir ’n week van drama.
“Dit was ’n ongelooflike vertoning deur die Sharks. Hulle het van die begin af ingeklim en hulself ’n kans gegee. Hulle het hulle nie vermoei met stories van vlugflouheid en dies meer nie en ek is seker hulle gaan ook nie die komende week wag om te kyk wat ons doen nie.
“Ek is bly vir die Sharks se onthalwe, maar op die speelveld is dit vir ons om ’t ewe teen wie ons moet speel. Teen die tyd dat jy by die halfeindronde van so ’n uitkloptoernooi kom, is daar orals kwaliteit.
“Ek dink nie daar’s veel te kies tussen die Sharks en die Crusaders nie: Die een span is Springbokke net waar jy kyk en die ander wemel van die All Blacks,” sê hy.
Dis einste die Sharks en die Crusaders wat vanjaar met die Stormers kon afreken en eersgenoemde was die enigste span wat drie drieë teen die snoepste verdediging in die kompetisie kon druk.
Saterdag sal óf die Sharks-krag nie meer onwrikbaar wees nie óf die Stormers-verdediging nie meer onbeweeglik nie, maar wat vas staan, is dat die vonke gaan spat voor ons uitvind.
Die Sharks se verdediging teen die Reds was van prima gehalte en die Australiese span het gehik soos hy gelak is.
Keegan Daniel, Sharks-kaptein, het agterna gesê sy span se verdediging het die verskil gemaak. “Dit is wat wedstryde wen en die manne het hul lywe op die spel geplaas. Dit was baie fisiek met harde slae in ’n harde wedstryd.
“Ek dink die spelers sien uit na die stryd teen die Stormers. Ons het laas daar sleg verloor, maar hierdie is eindstryde en as jy met een punt wen, wen jy met ’n punt.”