Byl: Sy vra oor seun ná aanval
2013-01-20 00:44
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Dorothea Brits (59), die predikantsvrou van Harrismith wat 40 dae gelede wreed met ’n byl aangeval is, is by haar volle bewussyn.
Sy het ernstige breinbeserings opgedoen in ’n aanval waarin haar man, ds. Willem Brits (60), en haar aanstaande skoonseun, Gerhard Vermeulen (25), in die pastorie doodgekap en -geskiet is.
“Sy is baie helder en sy sê nou duidelik wat sy wil sê,” sê ds. Bobby Scherrer, emeritus-predikant van die NG gemeente Kerkenberg en woordvoerder van die familie.
Ds. Brits was ’n predikant in dié kerk.
Mev. Brits praat reeds baie oor haar seun Martin (28), wat reeds voor ’n landdros gebieg het hy was in die aanval betrokke, sê Scherrer.
“Sy wil weet waarom hy dit gedoen het,” sê Scherrer.
“Ons probeer tans om nie te veel met haar oor die voorval te praat nie, maar wanneer sy vrae daaroor het, word dit reguit beantwoord.
“Dit gee haar die geleentheid om dit in haar eie tyd te verwerk,” sê hy.
Dit is uiters belangrik dat sy nou haar kragte herwin en dat dit geestelik ondersteun word, sê hy.
“Sy het geweldige trauma beleef en ons maak seker dat niks haar onnodig ontstel nie,” sê Scherrer.
Brits word in die rehabilitasiesentrum in die Mediclinic Bloemfontein behandel.
Die polisie het aangedui daar is nog onsekerheid of sy in haar seun se verhoor sal moet getuig.
Martin Brits en Elliot Mhlambi (42) is weens die pastorie-aanval en -moorde in hegtenis geneem.
Hulle het nie aansoek gedoen om borgtog nie en is steeds agter tralies.
Die twee verskyn weer op 25 Januarie in die hof. Die dagbestuur van die NG kerk Kerkenberg vergader volgende week om ’n nuwe leraar aan te stel.
Die Brits-egpaar se ander drie aangenome kinders, Willie (26), Dawid (32) en Thea (24), het die afgelope naweek hul besittings in die pastorie ingepak om elders te gaan woon, sê Scherrer.
Hy sê Brits sal in die Eliza Liddell-tehuis vir bejaardes in Harrismith gaan woon wanneer sy uit die hospitaal ontslaan word.