Charlize en Hurt Locker-ster ‘net vriende’
2010-03-13 23:19
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Dit lyk of Benoni se goue meisie, Charlize Theron (34), weer liefde gevind het.
Die Hollywood-aktrise word al hoe meer in die geselskap van Jeremy Renner (39) gesien nadat haar nege jaar lange verhouding met Stuart Townsend in Januarie op die rotse beland het.
Renner is op die groot skerm in die Oscar-wenner The Hurt Locker te sien. Hy is vir die Oscar vir beste akteur benoem vir sy rol as stafsersant William James in dié oorlogdrama.
Renner het gesê hy gaan kuier gereeld vir Charlize by haar huis in Hollywood Hills, maar hou vol hulle is net goeie vriende.
“Ons is gek na mekaar… maar as vriende. Ek kan saam met haar ontspan, op haar klavier speel en scotch drink.”
’n Bron na aan Theron sê talle van hul vriende vermoed daar broei iets tussen haar en die Amerikaanse akteur.
“Tog is hulle baie terughoudend oor sprake van ’n verhouding. Ons vermoed dit is omdat sy nie vir Stuart (Townsend) wil ontstel nie.”
Die bron sê ook dat die gewilde Suid-Afrikaner nie noodwendig nou ’n ernstige verhouding wil hê nie, juis omdat sy binnekort vir die verfilming van Mad Max 4 Australië toe gaan.
Renner is die afgelope twee jaar ’n losloper. Hy en sy vorige meisie, Jes Macallan, het uitgemaak terwyl hy besig was met die verfilming van The Hurt Locker.
Charlize en Renner ken mekaar al jare lank. Sedert sy en Townsend uitmekaar is, is die twee al verskeie kere saam in Hollywood gesien.
Bronne: www.starpulse.com; www.dailymail.co.uk.
- Rapport