Corrie se ‘liefie’ is sy graf belet
2012-10-08 07:09
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Christine van der Westhuizen in Johannesburg
Die meisie van die bokslegende Corrie Sanders (46), wat in ’n rooftog doodgeskiet is, is verbied om sy begrafnis by te woon.
En ’n vriendin van Sanders se eksvrou, Sunet, beskuldig Elsabé Gouws (44) daarvan dat sy wederregtelik ná Sanders se dood ’n duur horlosie van hom gevat het.
“Sy en Corrie was nie meer saam nie,” sê Marie Strijdom in ’n brief aan Rapport. Sy skryf Gouws is nie genooi nie na die geselligheid in ’n restaurant waar Sanders twee weke gelede geskiet is.
Sunet Sanders (47) het by navraag gesê sy weet wat in die brief staan en dit dra haar goedkeuring weg.
Strijdom skryf: “Hierdie vrou het ná sy dood na Sunet se huis gegaan en die kinders ontstel deur hulle kamer toe te neem en aan te dring op ’n aandenking van hul pa.”
Volgens Strijdom is Gouws weg met die horlosie wat Sanders ontvang het nadat hy in Maart 2003 die WBO-wêreldtitel gewen het deur Wladimir Klitschko te klop.
Volgens Strijdom is dit “derduisende rande” werd.
“Sy het na Corrie se vriend gegaan waar hy gebly het en gesê die kinders het vir haar die horlosie gegee. Hulle moes dit met behulp van die polisie by haar gaan haal.”
Gouws erken sy het Corrie se kinders gevra of sy een van sy twee horlosies mag hou. “Hulle het nog gesê, tannie, dis reg so,” sê sy.
“Hulle wou Corrie vir hulself gehad het, maar Corrie wou my nie los nie,” sê sy.
“Die hele besigheid is eintlik baie hartseer. Ons kon nou saamgestaan en mekaar se hartseer gedeel het.
“Ja, ek is die begrafnis belet. Dit is waarom ek net by die kerkdiens was en nie agterna by die graf nie.
“My hart is stukkend. My liefie is nou weg. Hy was altyd daar vir my.”
In ’n brief aan haar, wat Sanders glo die oggend voor sy dood geskryf het, sê hy onder meer: “En mag Hy my en jou verhouding seën met liefde, vreugde en geluk. Lief Jou Baie, Liefde Corrie xxx.”
* Drie Zimbabwiërs het in verband met die moord in die hof verskyn. Hulle verskyn môre weer in die hof.