Cosatu dreig en eis, eis, eis
2012-12-16 02:27
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Cosatu sal in 2013 in die strate vir versnelde ekonomiese transformasie betoog.
Die vakverbond het Dinsdag ’n art. 77-kennisgewing by die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac) ingedien wat die weg baan vir ’n landwye beskermde staking as gesprekke met die Kamer van Mynwese, Besigheidseenheid Suid-Afrika en 13 staatsdepartemente ’n dooie punt bereik.
Die kennisgewing word vertolk as ’n bedekte dreigement aan die ANC om op sy nasionale konferensie vandeesweek in Mangaung ingrypende beleidsbesluite te neem om werkloosheid, ongelykheid en armoede te stuit.
Cosatu se eerste eis is die nasionalisering van strategiese sektore – banke, die petrochemiese bedryf, minerale, bosbou, sement, konstruksie, telekommunikasie en die mynbedryf – om die ekonomie te transformeer.
Cosatu eis ook hoër belasting vir super-rykes, ’n beperking op die grootste verdieners se salarisverhogings en hoër invoerbelasting op luukshede.
Wat Cosatu betref, moet alle grond in staatsbesit wees en by wyse van huurpag aan individue of gemeenskappe beskikbaar gestel word.
Die vakverbond eis dat die regering sy onteieningsmagte “aggressief uitoefen” en onbenutte grond – waaronder wildplase en gholflandgoedere – teiken.
Cosatu voer aan ingrypende stappe is nodig omdat die ANC-regering se beleidsbesluite van die afgelope 18 jaar nie daarin kon slaag om die meeste swart mense van hul ellende te verlos nie.
Patrick Craven, Cosatu-woordvoerder, het ontken Cosatu wil die ANC “dwing” om na sy pype te dans.
“Ons maak dit bloot duidelik watter besluite ons meen nodig is.”
Volgens prof. André Duvenhage, ’n politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit, is dit ’n strategiese skuif van Cosatu om sy “spiere” in aanloop tot die konferensie “te bult”.