Cosatu se 2de grootste lid steun Zuma
2012-09-22 23:14
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Pres. Jacob Zuma se vooruitsigte in Mangaung lyk aansienlik beter nadat Cosatu se tweede grootste vakbond sy gewig agter hom ingegooi het.
Numsa, die metaalwerkersvakbond en een van Zuma se grootste kritici, het in ’n verrassende wending by Cosatu se nasionale kongres in Midrand aangekondig hy steun Zuma vir ’n tweede termyn as ANC-president.
Gemoedere het die afgelope week soms hoog geloop, veral toe die onderwysersvakbond Sadou met alle mag probeer het om die ANC se leiersdebat by die Cosatu-kongres te open.
Zwelinzima Vavi, wat saam met die res van Cosatu se topleiers onbestrede vir nog ’n driejaartermyn verkies is, het dié kwessie na die vakverbond se sentrale uitvoerende komitee verwys wat in Oktober sal besluit wie Cosatu in Mangaung steun.
Vavi en ander sprekers het deurgaans by die kongres van die Lula-oomblik gepraat – ’n verwysing na oudpres. Lula da Silva van Brasilië wat ná ’n swak eerste termyn ’n dramatiese ekonomiese omkeer in sy tweede termyn behaal het.
Karl Cloete, adjunk-sekretaris-generaal van Numsa, het aan Rapport gesê hy verstaan nie waarom Cosatu die leiersdebat vermy nie.
“Ons praat van drastiese ekonomiese transformasie, maar ek vind dit verregaande dat ons nie kan bespreek wie ons daarheen moet lei nie,” het Cloete gesê.
Rapport het van die grootste vakbonde in Cosatu gevra of Zuma die een is wat die Lula-oomblik kan laat realiseer.
Frans Baleni, sekretaris-generaal van die NUM, het gesê hulle steun ’n leier wat korrupsie kan uitwis.
“Vir eers ondersteun ons die ANC-leierskorps van Polokwane totdat hul termyne verstryk.”
Castro Ngobeni, Numsa-woordvoerder, het gesê afgevaardigdes by Numsa se onlangse kongres het hul stem dik gemaak oor steun vir Zuma.
“Ons is altyd as anti-Zuma gesien, maar dit was omdat ons hom en sy regering dikwels openlik oor baie kwessies gekritiseer het.”
Thobile Ntola, Sadou-president, het gesê ’n leier met die moed om drastiese ekonomiese verandering in te stel word vereis. “Ons evalueer nog die huidige leierskorps en sal later besluit wie ons steun.”