‘DA en Britte is te hand om die blaas’
2012-10-20 23:37
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Carien du Plessis en Mandy Rossouw
Die DA en Brittanje is alte danig met mekaar, reken ’n agterdogtige ANC.
Spioene van die Staatsveiligheidsagentskap ondersoek nou dié “verdagte” verhouding, het ’n senior amptenaar, wat ook ’n voorste ANC-leier is, aan City Press, Rapport se susterkoerant, bevestig.
Verskeie geleenthede die afgelope drie maande het tot die agterdog bygedra, soos vergaderings tussen Helen Zille, DA-leier, en Britse regeringsamptenare, asook Zille se reis na Londen.
Boonop is Ryan Coetzee, ’n voormalige raadgewer van Zille, aangestel as raadgewer van Nick Clegg, Brittanje se adjunkpremier. “Daar is iets dieper as wat dit op die oog af lyk en dit moet ondersoek word,” het die ANC-amptenaar gesê.
Nog ’n regeringsamptenaar meen die verhouding tussen die Britte en die DA lyk soos die Britte se steun vir die MDC in Zimbabwe om die “vyandige” regering van pres. Robert Mugabe omver te werp.
Zille sê in reaksie dié storie klink vir haar alte veel na die soort grap vir Aprilgekkedag.
“Is iemand hier in ’n parallelle heelal? Of is dit deel van die ANC se voortslepende ‘Zanufikasie’?”
In Londen was sy positief oor Suid-Afrika se toekoms, het sy gesê. Hier het sy met die hoë kommissaris Zola Skweyiya vergader en “telkens positiewe terugvoering gekry”.
Sy het onder meer onderhoude gehad met CNN, die Financial Times en The Economist.
Die DA se verhouding met Brittanje is “professioneel, soos met alle ander regerings”.
Vroeër het die DA gekla dat daar op die party gespioeneer word.
Brian Dube, woordvoerder van die Staatsveiligheidsagentskap, sê die agentskap “word gerig deur ’n behoefte om nasionale veiligheid te handhaaf kragtens die Grondwet en nasionale wetgewing”.