DA-geleide koalisie kan in 2024 oorvat – kenner
2013-02-23 23:24
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
’n DA-geleide koalisie kan die ANC in 2024 se algemene verkiesing verslaan.
Frans Cronjé, uitvoerende adjunkhoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge, grond sy mening daarop dat die ANC se steun met elke verkiesing krimp. Boonop het tot 40% van ANC-ondersteuners nie in die vorige verkiesing gestem nie omdat hulle ontevrede is.
Cronjé sê die ANC se sukses by die stembus is danksy die party se vermoë om veral die heel armste Suid-Afrikaners se lewenspeil te verbeter. Hy voer aan die ANC sal dié verbetering nie kan volhou nie tensy die land ’n ekonomiese groeikoers van minstens 5% handhaaf.
“Dit sal eindelik tot die ANC se verkiesingsnederlaag bydra.”
Cronjé het dié scenario Woensdagaand geskets tydens ’n bespreking by die Vryemarkstigting in Bryanston, Johannesburg.
Prof. Dirk Kotzé, ’n politieke wetenskaplike aan Unisa, sê so ’n projeksie is “’n bietjie gewaagd” omdat die politieke landskap in Suid-Afrika verskil van dié van gevestigde demokrasieë.
Cronjé sê: “Ironies is dit juis die verbeterings in lewenspeil wat verhoogde verwagtinge vir toekomstige verbeteringe dryf.”
Hy sê dié verwagtinge is egter weens die swak onderwys- en arbeidstelsel onbereikbaar.
“Werkloosheid en afhanklikheid van staatstoelaes sal tot al hoe meer protesoptogte lei.”
Volgens Kotzé lyk dit asof die ANC steun verloor, maar die vraag is of opposisiepartye die potensiaal het om die ANC te onttroon.
Die DA het nie nasionaal baie steun nie, hul ondersteuners is meestal in die Wes-Kaap en Gauteng gesentreer.
Kotzé meen ’n belangrike faktor is of opposisiepartye gaan konsolideer. “Dit lyk of die ANC besorg is hieroor.”
Pres. Jacob Zuma het Donderdag in sy repliek op die debat oor die staatsrede uitgevaar teen die samewerking tussen opposisiepartye in die parlement.
“Dit wys die ANC is bekommerd en dat dit ’n potensiële gevaar by die stembus inhou.”