DA-plakkaat ’n ‘ironiese ramp’
2012-01-28 23:09
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
LIZEL STEENKAMP IN JOHANNESBURG
Konserwatiewe DA-ondersteuners wat aanstoot neem met die DA-studenteorganisasie (Daso) se omstrede plakkaat waarin ’n paartjie van gemengde ras verskyn, hoort nie in dié party nie.
Politieke kommentators meen die DA sal selfs beter daaraan toe wees sonder dié mense.
“Die DA moet konserwatiewe kiesers afskud. Hulle hoort elders, miskien in die VF+ of die ACDP,” het mnr. Max du Preez, politieke kommentator, aan Rapport gesê.
“Terselfdertyd hoort konserwatiewe swart mense nie in die DA nie, maar in die ANC wat obsessief is oor ras en met ’n sterk anti-gay element sit.”
Mense van alle rasse is om verskillende redes ontsteld oor die Daso-plakkaat waarin twee jongmense in ’n intieme omhelsing is.
Dit propageer die DA-jeug se toekomsvisie van ’n nie-rassige Suid-Afrika met ’n boodskap onderaan wat lui: “In ons toekoms sal jy nie twee keer kyk nie.”
Die plakkate word op kampusse geplaas om lede vir Daso te werf, maar volgens die politieke kommentator mnr. Eusebius McKaiser is dit ’n “ramp” onder DA-ondersteuners en dié wat hulle wil werf.
Kritiek wissel van aantygings dat dit seksuele losbandigheid aanhits tot jong swart professionele lui wat meen Daso oorvereenvoudig die rassevraagstuk.
“As julle regtig ras wil pak, begin by die kwessie van wit bevoorregting,” lui ’n boodskap op Twitter.
Hoewel wit jongmense meestal positief gereageer het op die plakkaat, blyk dit daar is teenstand van die ouer garde.
Een verklaring vir konserwatiewe wit DA-kiesers se ontsteltenis is dat dié mense nie noodwendig vir me. Helen Zille se party stem oor hul nie-rassige ideologie nie, maar eerder omdat dit die grootste opposisieparty in die land is en die enigste om die ANC by die stembus te troef.
McKaiser meen die DA kan nie sy ondersteuningsbasis uitbrei met kiesers wat teen nie-rassigheid gekant is nie.
“Die ironie is dié plakkaat laat die DA baie meer liberaal lyk as wat die party in werklikheid is en die deursnee swart kieser gaan nie daarvoor val nie.
“Konserwatiewe DA-kiesers kan met ’n geruste hart die braaivleisvuur aansteek.”
Volgens mnr. Aubrey Matshiqi, onafhanklike politieke ontleder, het die DA beheer verloor oor die politieke boodskap wat die plakkaat moet oordra en het Daso nie in ag geneem dat simbole soos ras, geslag, ouderdom en klas verskillende dinge vir verskillende mense beteken nie.
Hy meen dié koersverandering kan konserwatiewe DA-kiesers vervreem, maar die plakkaat is ook “oneerlik”.
As die DA wil hê swart kiesers moet hom ernstig opneem, sal hy groter erns moet toon met die rol van ras in die ekonomie en dat dit grootliks bepaal wie toegang tot werk en geleenthede het, het Matshiqi gesê.