DA se visier bly op Zuma
2012-12-29 23:17
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Lizel Steenkamp in kaapstad
Die DA sal pres. Jacob Zuma tot in die konstitusionele hof aanhou jag, ongeag wát dit kos.
Zuma se herkiesing as ANC-leier in Mangaung beteken hy sal vir nog sewe jaar Suid-Afrika se staatshoof wees – tensy die ANC die algemene verkiesing in 2014 verloor of as iets onverwags gebeur.
“Ons het dus nog baie tyd,” het James Selfe, voorsitter van die DA se federale bestuur, die party se voornemens vir 2013 en daarná eergister uitgestippel.
Selfe meen die DA se stryd om Zuma in die beskuldigdebank te kry op aanklagte van korrupsie wat spruit uit die omstrede wapentransaksie kan volgende jaar draai in die konstitusionele hof – die land se hoogste hof.
“Onthou, om die president uit die tronk te hou is wat hier op die spel is,” het Selfe gesê.
Minstens twee hofsake kan Zuma se nuwe jaar vroeg-vroeg versuur.
Die eerste is die DA se aansoek in die hooggeregshof in Pretoria vir ’n hofbevel om die nasionale vervolgingsgesag (NVG) te dwing om aan die appèlhof se uitspraak te voldoen.
Die appèlhof het op 20 Maart vanjaar beslis die NVG moet al die toepaslike materiaal waarop die besluit berus het om in April 2009 die 783 aanklagte van korrupsie teen Zuma terug te trek, aan die DA te verskaf.
Dit sluit in die transkripsies van die onderskepte gesprekke op die spioenasiebande tussen amptenare van die NVG, die Skerpioene en politici wat die destydse waarnemende nasionale direkteur van openbare vervolging, adv. Mokotedi Mpshe, oortuig het Zuma se vervolging was polities gemotiveerd.
Die DA hoop om dié hofbevel in Februarie te bekom.
Voorts oorweeg die DA dit om ’n aansoek in die hooggeregshof in Pretoria te bring om Mpshe se besluit om Zuma nie te vervolg nie, te hersien.
Sou só ’n aansoek slaag, is dit ’n gegewe dat die NVG dit eers in die appèlhof en dan in die konstitusionele hof sal beveg.
Dieselfde geld die DA: sou hul hersieningsaansoek misluk, sal die party ’n soortgelyke strategie volg.