DNS is ‘die beste geweer’
2012-12-22 23:57
JOHAN EYBERS IN JOHANNESBURG
Agt jaar gelede is Vanessa Lynch (43) se lewe tot stilstand geruk toe haar pa in sy huis in Sandton vermoor is.
Sy kon dié sinlose aanval en moord op haar pa skaars verwerk toe Vanessa nog ’n skop in die maag kry: Die moordenaars kom skotvry daarvan af omdat daar geen manier is om hulle met haar pa se moord te verbind nie.
Die rede? Weens gruwelike onkunde en onbevoegdheid by die polisie is al die forensiese bewyse weggegooi of vernietig wat die moordenaars se DNS bevat het.
Dit was die pyn en frustrasie van hierdie hopelose situasie wat Lynch gedryf het om haar loopbaan as ’n prokureur te beëindig en ’n organisasie sonder winsbejag, DNA Project SA, te begin.
In die projek se kinderskoene het hy meestal laboratoriums gehelp om hul agterstand met forensiese toetse in te haal.
Die polisie het intussen twee van die gevorderdste forensiese laboratoriums ter wêreld in Pretoria en Kaapstad ingerig en is nou besig om 800 forensiese deskundiges aan te stel om dié laboratoriums te beman, sê asst.komm. Adeline Shezi van die polisie se forensiese afdeling.
DNA Project SA se span van tien mense fokus nou op opleiding en om as ’n drukgroep op te tree vir ’n nasionale DNS-databasis, wat die polisie sal verplig om DNS-monsters van alle verdagtes en veroordeeldes veilig te bêre.
“Die DNS-databasis is die beste wapen wat daar is teen misdadigers,” vertel Lynch.
“Wanneer die databasis op dreef is, sal dit die polisie in staat stel om DNS-monsters wat op misdaadtonele geneem word met die DNS-profiele op die databasis te vergelyk.
“Dit maak dit ontsettend maklik om misdadigers met ’n misdaad te verbind en die oortreders te vervolg omdat dit ’n onfeilbare bewys is dat iemand op ’n misdaadtoneel was.”
In lande waar dit reeds gebruik word, het dit ’n baie positiewe uitwerking op misdaadbekamping gehad, sê sy.
“Dit dien as ’n afskrikmiddel vir misdadigers. Én oortreders word gevang voordat hulle geharde misdadigers word.”
Volgens Lynch is dit vreemd dat Suid-Afrika nou die gevorderdste tegnologie het om DNS te kan ontleed, terwyl wetgewing nog ontbreek om dit doeltreffend te kan gebruik.
Haar voorstelle is vervat in konsepwetgewing wat gereed is om gepubliseer te word vir openbare kommentaar. Na verwagting sal dit in Februarie gebeur ná die opening van die parlement.