Dagbreek: ’Skuus lei tot nuwe twis

2012-09-03 05:57

Hanno Jacobs en Robert Fortuin is onderskeidelik die nuwe primarius en onder-primarius van Dagbreek.| Foto: Sharief Jaffer

Foto's   ·   Lesersfoto’s   ·   Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Die openbare verskoning van vyf Maties oor hul koshuis se aandeel aan die berugte “Slag van Andringastraat” 72 jaar gelede het wéér verdeeldheid op die kampus van die Universiteit van Stellenbosch (US) veroorsaak.
Wit Maties en bruin Stellenbossers het mekaar in 1940 erg in die middedorp toegetakel.

Die studentedekaan, dr. Llewellyn MacMaster, het die apologie van die uittredende primarius van die manskoshuis Dagbreek, Pieter Nel, en sy komitee van vier beskryf as die voorloper van ’n kampuswye versoeningsgeprek waarin studente kan praat oor “skuldgevoelens” oor die verlede.

Maar terselfdertyd is huidige en oud-Dagbrekers woedend vir Nel.

Sy gebaar het ’n eertydse generasie se aandadigheid aan apartheid “in die skoot van jongmense geplaas”, voel hulle.

Nel het Vrydag ’n apologie aan die koerant Mail & Guar­dian gestuur oor Dagbreek “se aandeel” aan die gebeure van Julie 1940 toe Maties bruin mense se huise in Andringa­straat op die dorp geplunder het.

Die nuwe primarius, Hanno Jacobs, en die voorsitter van die oud-Dagbreker-bond (ODB), Marco Botha, sê Nel het geen mandaat gehad om namens ander jonger én ouer geslagte Dagbrekers te praat nie.

Volgens Nel se verklaring aanvaar Dagbreek “verantwoordelikheid vir die gebeure van die verlede en ons betrokkenheid daarby.

“Namens hierdie instansie rig ons ’n verskoning vir ons ongehoorsaamheid en liefdeloosheid wat gelei het tot ons dade.”

Hy haal ruimskoots aan uit die historikus prof. Hermann Giliomee se nuwe boek, Nog altyd hier gewees: Die storie van ’n Stellenbosse gemeenskap:

“Dié studentegeweld kan beskou word as ’n voorloper van apartheid se strukturele geweld deur middel van gedwonge verskuiwings uit gemengde gebiede, rasseklassifikasie en die verbod op gemengde huwelike en ontug.”

Jacobs sê die verklaring is uitgereik sonder eenstemmigheid daaroor in die koshuis.

“Die huis en huiskomitee het geen probleem met dié versoeningsgebaar nie.”

Maar volgens ’n besluit van ’n huisvergadering op 30 Julie moes Nel eers ’n komitee saamgeroep het wat historiese gebeure ondersoek waar Dagbreek moontlik regstreeks betrokke was by apart­heids­prak-tyke, sê Jacobs.

“Die komitee moes eers terugvoering gee voordat ’n verklaring uitgereik word. Dié prosedures is geminag.”

Botha het by navraag aan Rapport gesê die meeste huidige en oud-Dagbrekers weet niks van die Andringastraat-voorval nie. “Dit maak dit noodwendig moeilik om daarvoor verskoning te vra. Die ODB is nooit hierin geken nie.

“Tog bestaan daar wel waardering vir die versoeningsgebaar. Die chronologie in Pieter-hulle se navorsing, waarop die veronderstelling berus dat Dagbreek moontlik ’n invloed gehad het op die skep van die apartheidsbeleid, is egter twyfelagtig.

“Die handjievol studente wat namens alle Dagbrekers dié verklaring uitgereik het, het ’n paar jongeres warm onder die kraag omdat dit aandadigheid aan apartheid by implikasie ook in die skoot van 380 huidige jong Dagbrekers plaas.

“Dis ’n etiket wat met geen redelikheid aan daardie generasie geheg kan word nie.”

MacMaster sê hy beskou Nel se gebaar as uiters positief.

“Soms is ’n ongemaksone nodig om vorentoe te beweeg. Sy optrede is waagmoedig en skep ruimte vir gesprek op die kampus. Dit gee ons ’n aanknopingspunt om te praat oor die skuld van die verlede.”

Giliomee het gesê: “Ek dink die universiteit moes reeds lank­al behoorlik om verskoning gevra het. Of dit nou in so ’n laat stadium nog doenlik is, is egter ’n ope vraag.”

Dagbreek se inwonende hoof, dr. De Wet Strauss, het gesê hy “weet nog niks van die apologie nie, maar sal volgende week daaroor besin”.

Die rektor, prof. Russel Botman, wou nie kommentaar lewer voordat hy nie met die studente self gepraat het nie.

***

Die “Slag van Andringastraat” was ’n gewelddadige botsing tussen bruin Stellenbossers en wit Matie-studente in die Eikestad gedurende die laaste naweek van Julie 1940.

Dié groepe het mekaar op ’n Sondagmiddag op die hoek van Victoria- en Andringastraat genadeloos te lyf gegaan.

Die bruin kiesers op Stellenbosch was oorweldigend Verenigde Party (VP)-gesind.

Hulle het geweet die Nasionale Party (NP) dring ál meer aan op die verwydering van bruin mense van die kieserslys en op aparte groepsgebiede. Dit sou die bruin mense op die dorp kwaai raak, met sowat 3?000 mense wat in ’n buurt, “Die Vlakte”, gewoon het.

Terselfdertyd was die meeste Afrikaners sterk gekant teen Suid-Afrika se deelname aan die oorlog in Europa, terwyl die meeste bruin mense, soos die Engelssprekendes, dit sterk gesteun het. Die Slag van Andringastraat is voorafgegaan deur die Slag van Adderleystraat in Kaapstad die vorige dag.

Voetgangers moes twee minute lank stilstaan en bid vir ’n oorwinning van die Geallieerde magte in Europa.

Op Saterdagoggend 27 Julie 1940 het ’n groep Stellenbossers Kaapstad toe gegaan om dié bidpouse uit te daag. ’n Woeste geveg het tussen studente, soldate en matrose uitgebreek.

Die Cape Argus, wat Saterdae teen 21:00 op Stellenbosch aangekom het, sou oor die gebeure berig.

Al plek op Stellenbosch waar dit te koop was, was Senitzky se kafee in Andringastraat.

Luidens ’n verslag van ene David van der Merwe “wou almal die Argus koop. Studente en nie-blankes sukkel deurmekaar om die oplaag by te kom.

“In die gedrang word ’n paar studentedames opsy gestamp.

“Woorde volg, vuiste swaai, en gou reën die betonklippe. Senitzky se winkelvensters spat aan skerwe. ’n Paar bebloede ongevalle word verwyder.

“’n Volskaalse oorlog woed dwarsdeur die nag.”

Die Burger en die Cape Argus se berigte verskil heeltemal oor wat gebeur het. Teen middernag het polisieversterkings en die plaaslike burgermag orde herstel.

Maar Sondag net ná 13:00 het ’n veel erger botsing uitgebreek. ’n Groep van honderde bruin mense het langs Andringastraat afbeweeg. Sommige het ’n kruiwa vol klippe gestoot.

Uit die koshuise Dagbreek en Wilgenhof het honderde studente gestroom. Op die hoek van Victoria- en Andringastraat het ’n woeste geveg uitgebreek.

Die studente het ook die huise van bruin mense in Andringastraat aangeval en in ander strate wat niks met die botsings te doen gehad het nie.

Die latere Sestiger-skrywer Jan Rabie het sy herinneringe in die vorm van ’n kortverhaal in die bundel Een-en-Twintig opgeteken.

Hy verwys na “’n gemeenskaplike woede, ’n wolwetrop van studente wat in ’n verontwaardigde agtervolging die straat afhardloop en gemeenskaplik jag.

“Twintig, dertig spring op na ’n akkerboom se takke om gemeenskaplike slaangoed te kry. ’n Reën klippe stuit die studente. ’n Handjie vol polisiemanne los skote in die lug.”

Die rektor, prof. R.W. Wilcocks, het by die studente gepleit om hul aanvalle te staak.

Hulle het gehoor gegee en uit Andringastraat begin terugtrek.

– Uit Hermann Giliomee se boek Nog altyd hier gewees: Die storie van ’n Stellenbosse gemeenskap (Tafelberg), wat pas verskyn het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
9 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Lotto
Ksd: 14-20°C High level clouds. Mild. Pta: 10-23°C Sunny. Mild.
Jhb: 10-18°C Mostly sunny. Mild. Bfn: 5-22°C More sun than clouds. Mild.
Dbn: 16-23°C Morning clouds. Mild. PE: 14-21°C Morning clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Retail Manager

Pietermaritzburg
Pronel Personnel Consultants Pietermaritzburg
R7000 - R8000

Desktop Engineer

Richards Bay
Student Temps & Pro Appointments
Market Related

I.T Systems Administrator (JHB)

Gauteng
Datafin Recruitment
Market Related

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Southern Sun - Maputo

Spend 3 nights and pay for 2 at Southern Sun - Maputo for only R4 621 per person sharing. Includes accommodation, return flights, airport taxes and airport transfers.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Koop Gordon Ramsay se uitsonderlike kookkunsboek en kry Bokke se kombuis GRATIS!

Koop Gordon Ramsay se uitsonderlike kookkunsboek vir net R368 en kry Bokke se kombuis, ter waarde van R180, GRATIS! Aanbod geldig terwyl voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar op Bear Grylls se oorlewingsgereedskap!

Is jy ’n rowwe man wat kan grom? Of soek jy na ’n geskenk vir iemand? Loer na die ongelooflike Bear Grylls-oorlewingsgereedskap teen fantastiese pryse. Koop nou!

Witwarm en eksklusiewe Coby 7" WiFi-tabletrekenaar – slegs R1299.95

Moenie hierdie witwarm winskopie van die week misloop nie. Bespaar R300 op die Coby 7”-tabletrekenaar! Word binne 24 uur versend + gratis afgelewer. Solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Tot 20% afslag op voorafbestellings vir supergewilde speletjies!

Maak gebruik van hierdie witwarm aanbod! Bespaar tot 20% op supergewilde speletjies soos Grand Theft Auto 5, Fifa 14, Grid 2, Battlefield 4 en nog meer as jy dit nou bestel. Plaas jou voorafbestelling nou!

20% afslag op die jongste musiekuitreikings

Kry 20% afslag op nuwe musiekuitreikings, ingesluit To Be Loved van Michael Bublé, Now 63, The 20/20 Experience van Justin Timberlake en nog veel meer. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Witwarm en eksklusiewe Coby 7" WiFi-tabletrekenaar – slegs R1299.95

Moenie hierdie witwarm winskopie van die week misloop nie. Bespaar R300 op die Coby 7”-tabletrekenaar! Word binne 24 uur versend + gratis afgelewer. Solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!

There are new stories on the homepage. Click here to see them.