‘Dankie Juju en élke ander ondersteuner’
2012-10-07 00:19
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Julius Malema het Khaya Mthethwa voor die Idols-eindronde openlik gesteun.
Dié omstrede voormalige president van die ANC-jeugliga het op Twitter geskryf Mthethwa “is die beste van al die Idols-deelnemers en het almal se ondersteuning nodig”. Malema het net minder as 230?000 aanhangers op Twitter.
Maar die nuwe Idols-wenner sê hy is dankbaar teenoor élke Suid-Afrikaner wat vir hom gestem het.
Die 25-jarige Durbaniet is Dinsdagaand in Johannesburg as die wenner van die agtste Suid-Afrikaanse reeks gekroon. Sowat 3 miljoen stemme is in die laaste week uitgebring.
“Ek is baie dankbaar vir Julius Malema se ondersteuning. Ek wil ook vir hom dankie sê dat hy talent in ons land ondersteun. Maar baie ander mense het ook stemme vir my gewerf en vir my gestem.”
Mthethwa het Donderdagoggend gesê die werklikheid van sy oorwinning het eers vroeër daardie oggend ingesink terwyl hy in die stort was. “Ek het besef: Dit het regtig gebeur! Ek kon nie ophou glimlag nie.”
Mthethwa het hom sterk uitgespreek oor diegene wat vir die naaswenner, Melissa Allison (23), geboe het. “Ek is van kleins af geleer om mense met respek te behandel, maak nie saak wie hulle is nie.”
Mthethwa sê hy sal graag saam met Allison musiek wil maak. Hy sê die hele Idols-ervaring was groter en beter as wat hy hom ooit kon voorstel. “Ek het meer aandag in drie maande gekry as wat ander sangers in ’n leeftyd kry.”
Sy droom is om ’n ambassadeur vir sy land te wees. “As mense eendag aan my terugdink, moet hulle weet ek was getrou aan myself.”