Dassie huis te hou met dié vrypostige lasposte nie
2012-07-28 23:56
Teen Tafelberg se hange lê hulle luilekker in die son en bekyk die toeriste.
Maar in sommige van Johannesburg se suidelike voorstede word dassies ’n yslike probleem.
Inwoners van gebiede soos Glenvista, Mulbarton, Bassonia en Mondeor is raadop met dassies wat hul leefruimte binnedring.
Een het selfs ’n hond in die swembad laat beland en daar word nou gewik en geweeg hoe om dié probleem hok te slaan.
“Maar eintlik kan ons hulle nie kwalik neem nie, nè? Ons het immers húl natuurlike habitat kom oorneem,” sê Dot Atkinson van Glenvista.
“En hulle is aan die gang, hoor!” sê Harold, Dot se man.
“Hulle verniel jou plante, daar is merke teen die heining waaroor hulle klouter, selfs met doringdraad bo-op.”
Agter die Atkinsons se huis is ’n koppie met volop rotse en bosse waar dassies aanteel. “Ag, maar die tuinier kla seker nie. Die dassies help hom om die gras te sny en sekere plante te snoei,” lag Dot.
Voor op die wa is hulle beslis.
“’n Groot dassie sit nou die dag en speel in die voëlbad in die tuin. In dáái bietjie water. En dit het ’n slag gelyk of hy rugslag swem,” sê Dot.
In die somer lê die dassies op die plaveisel voor die Atkinson-huis in die son en bak. Hulle ontsien ook nie troeteldiere nie.
Anita Dagher van Mulbarton vertel van die noue ontkoming van haar hond, Julie.
“’n Dassie was met kleintjies en al in my tuin en my hond het een met sy bek opgetel.
“Toe die ma dít sien, het sy die hond met haar kleintjie en al by die swembad ingestamp,” sê Anita.
Malcolm Slabbert van Glenvista is erg gefrustreerd. “Ek wou hulle al vergiftig, maar iemand sê toe hulle is ’n bedreigde spesie. Hulle is ’n oorlas en verrinneweer alles. Groot honde jaag hulle darem soms weg.”
Slabbert het ook al die Johannesburgse Dieretuin geraadpleeg wat hom aangeraai het om lokvalle te stel.
Die raad was om hulle nie na die dieretuin te neem nie, maar hulle vry te laat by koppies en reservate buite die stad.
Volgens Nthatisi Modingoane, woordvoerder van die Johannesburgse metroraad, is daar nog geen beslissing oor hoe die dassies uitgedun sal word nie.
Daar is die laaste weke gesprekke gevoer met onder meer die polisie en omgewingspesialiste, sê hy.