Davidse ‘haal Anneli uit afsondering’
2012-11-24 22:43
“Jou musiek leef en jy leef óók nog. Maak iets daarvan.”
Anneli van Rooyen sê dis die besef waartoe sy gekom het toe sy hoor die Davids-familie van Atlantis reik ’n album uit waarop hulle aan haar hulde bring.
Een van die dogters, Sasha-Lee, het in 2009 Suid-Afrika se Idols-kroon gedra.
“Dis asof hulle my uit afsondering gaan haal het en weer ’n stukkie lewe in die vorm van dié geskenk gee.”
Van Rooyen het die bekendstelling van die eerste enkelsnit, Ek wil jou ken, in Kaapstad bygewoon waar Sasha-Lee dit spesiaal vir haar gesing het.
“Dié liedjie is in 1984 vir die televisiereeks Skoppensboer geskryf. Dis immergroen en wil nie oud word nie. Dis ’n stuk vreugde van musiek, en dit word nou na nuwe generasies oorgedra,” sê Van Rooyen.
Sy is bekend om treffers soos Neem my op vlerke, Sewe sakke sout en Ek lewe.
Van Rooyen sê haar herstelproses is nog “ontsettend moeisaam” en elke keer as sy hoop, word sy net weer uit ’n blinde hoek geslaan.
“Dit gaan swaar, maar ek glo vas ek gaan die pyn in ’n hoek jaag. Dit voel nog al die pad opdraande, maar iewers gaan ek daardie opdraande vang. Die pad wat die Here vir my vorentoe het, sal nog duidelik gemaak word.”
Vyf jaar gelede het ’n prosedure teen trigeminale neuralgie erg skeefgeloop. Die pyn van ’n onherstelbaar beskadigde gesigsenuwee was so erg dat sy drie maande gelede ’n motorkorteks-neurostimulator-inplanting ontvang het wat die pyn elektronies blokkeer.
“Om my eie musiek nou só te hoor is ’n opheldering en ’n geskenk uit die bloute.
“Die pyn laat jou net by jou voete kyk, op die grond, maar dié musiek lig jou blik.”
Vir Sasha-Lee is dit belangrik dat sy Van Rooyen se musiek eer. “Ek was nog baie klein toe ek na Anneli se musiek geluister het. Ek het nie geweet wat die lirieke beteken nie, maar ek kon voel wat sy voel. En dis hoe ek nou haar musiek wil sing.”
Die Davids-familie was die sterre van Suid-Afrika se eerste musikale realiteitsprogram, Huis van Davids, wat op kykNET en Mzansi Magic uitgesaai is. Jeroen Jespers, uitvoerende hoof van die Belgiese De Tondeldoos Group, neem nou die Davids-familie op ’n Europese toer in die Kersvakansie.