Die Madiba-twis

2013-03-31 00:17

Oudpres. Nelson Mandela in Julie kort na sy 94ste verjaardagviering. By hom is sy dogter Zindzi. Foto: Zenani Mandela-veldtog, Reuters

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Terwyl oudpres. Nelson Mandela se gesondheid verder versleg, is sy familie gewikkel in ’n reuse- en soms onsmaaklike twis oor sy nalatenskap, skryf David James Smith.

Mac Maharaj kan nie die presiese datum onthou nie, maar die eerste keer toe hy besef het Nelson Mandela se geheue begin agteruitgaan, was jare gelede, toe Mandela tydens vergaderings notas begin neem het om homself te herinner wat bespreek is, en ook wat hy self gesê het.

Daarna het Mandela heeltemal opgehou notas neem en nou sukkel hy selfs soms om te onthou wie Mac is.

“Mense praat nie daaroor nie, maar daar is geheueverlies.”

Mac was saam met Mandela op Robbeneiland en was minister van vervoer in Mandela se kabinet. Die twee ken mekaar al byna 50 jaar. Mac, wat aktief betrokke was in Umkhonto we Sizwe, tel onder Mandela se intiemste vriende en kamerade – Mandela het die meeste ander oorleef – en is een van min mense buite sy familie wat Mandela te eniger tyd kan sien, selfs nou.

Hy onthou ’n onlangse besoek aan Mandela se huis in Hough­ton, Johannesburg. Mac het aangekom terwyl Graça, Mandela se derde vrou, hom help eet het. Hy het stilletjies eenkant gaan sit. Mac het gou besef Mandela weet nie wie hy is nie, toe skuif hy nader in die hoop dat hy hom sal herken.

Maar helaas kan Mandela nie meer loop nie, en ook nie sy kop van een kant na die ander beweeg nie, so Mac skuif toe tot reg voor Mandela, wat na hom staar terwyl hy sukkel om die identiteit van sy besoeker uit sy geheue op te diep.

Mandela het lank niks gesê nie en toe skielik: “Kathy sê jy is die slimste man wat hy tot nog toe ontmoet het!” – ’n verwysing na die mening van sy ou kameraad Ahmed Kathrada oor Mac.

Mac is bepaald baie slim. In 2001 het pres. Jacob Zuma hom sy woordvoerder gemaak, so Mac het teruggekeer na ’n openbare rol, ook wat betref die laaste hoofstuk van Mandela se ­lewe. Dis Mac wat amptelik die segsman is oor sy ou vriend se gesondheid, en hy is ook lid van die klein komitee wat Mandela se dood sal bestuur wanneer dit kom.

Mandela se buitengewone gestel het hom ’n rits onlangse gesondheidsterugslae help oorkom. Nou, met ongewone toegang tot sy familie en sy binnekring, kon ek ’n unieke prentjie vorm van sy laaste dae en die probleme in sy familie.

Sommiges na aan Mandela kritiseer wat een “die morbiede fassinasie met sy einde” noem, maar daar is geen punt om voor te gee dat dit nie gaan gebeur nie.
Mac sê “die gesprek vind in fluisterstemme plaas”.

“Ons almal wil hê hy moet langer by ons bly, en tog word dit moeiliker hoe langer hy bly. Die man is ’n vegter, maar die vrees is dat sy waardes deur sy lang lewe vervaag sal word, so kom ons dink dieper oor hierdie man en wat hy beteken.”

Ander wat eens op ’n tyd na aan Mandela was, vrees dat sy verswakte toestand dié besonderse staatsman van sy waardigheid stroop en ander toelaat om uit sy naam munt te slaan.

Soos Mac alte goed weet, sal Mandela se dood die wêreld in rou dompel, en ’n staatsbegrafnis op ongekende skaal noodsaak. Almal wat al sy hand geskud het, sal daar wil wees.

Niemand wil die besonderhede bespreek van die reëlings wat reeds getref is nie, maar ek verstaan daar is reeds ’n konsep-aankondiging, ’n begrafnisplan, ’n orde van verrigtinge en ’n lys internasionale hooggeplaastes wat uitnodigings kan verwag.

Dit word my vertel daar is ook gewroeg oor die lys van Mandela se familielede wat ingelig moet word wanneer hy sterf, en veral die volgorde waarin hulle verwittig sal word. Wie word eerste gebel? ’n Onbenulligheid, sou ’n mens dink, maar ’n teken van die tydbom wat wag om te ontplof.

Dis geen geheim dat Mandela se twee families nie oor die weg kom nie. Die eerste familie, die nasate uit sy huwelik met Evelyn Mase, sy eerste vrou, was al telkens in bitter vetes betrokke met sy tweede familie, uit sy huwelik met Winnie Madikizela-Mandela.

Die eerste familie meen dikwels hul rol in Mandela se lewe is oorskadu deur sy huwelik met Winnie nadat Mandela in 1958 van Evelyn geskei is. Evelyn, ’n baie godsdienstige vrou, het ’n Jehova-getuie geword en tot haar dood in 2004 ’n winkel in die Oos-Kaap bedryf.

Mandela het van Winnie geskei ses jaar nadat hy in 1990 vrygelaat is. Sy is betrek by die dood van jong mans in Soweto en het ’n openlike verhouding met die advokaat Dali Mpofu gehad. Toe trou Mandela vir die derde keer met Graça Machel, weduwee van die Mosambiekse leier Samora Machel.

Graça, wat in haar middel-vyftigs was toe hulle getroud is, het al vergeefs vrede tussen die strydende partye probeer maak.

Winnie se familie het hulle byvoorbeeld heeltemal onttrek aan die begrafnisreëlings (ek kon niemand van dié familie oorreed om met my te gesels vir dié artikel nie, ondanks herhaalde oproepe, e-posse en SMS’e).

Elke faksie blameer die ander dat hy Mandela se naam en nalatenskap vir eie gewin uitbuit.

“Die tweede familie (Winnie s’n) meen hulle besit my oupa,” sê Ndileka Mandela. Sy beskryf haarself as die eerste van die eerste van die eerste – die eersgebore kind van Mandela se eersgebore seun, Thembi, by sy eerste vrou, Evelyn.

Ek het Ndileka ontmoet tydens navorsing vir my boek Young Mandela, wat my toegang gegee het tot die hart van die familie en die Nelson Mandela-stigting.

Sy het pynlike insigte gebied op die uitwerking van ’n reeks tragiese gebeure op die hele familie, waaronder die aaklige dood van Zenani Mandela, die tweede familie se 13-jarige kleindogter, in ’n motorongeluk op die vooraand van die Wêreldbeker-sokkertoernooi in Junie 2010.

Ook dít het tweespalt veroorsaak.

Uit talle oop gesprekke met familielede is dit duidelik die twee takke van die familie is deur dieselfde omstandighede geraak – Mandela was so besig om ’n vader vir ’n nasie te wees dat hy min tyd gehad het om pa vir sy eie kinders te wees.

Voor sy skuldigbevinding in 1962 was hy voortvlugtig en daarna is hy 27 jaar lank tronk toe. Hy was dus nooit daar vir hulle nie – ’n tipiese disfunksionele familie met ’n afwesige pa.

Winnie se dogter Zindzi het my vroeër reeds vertel hoe sy haar pa verwyt het vir sy afwesigheid, selfs nadat hy uit die tronk vrygelaat is.

Ek het gewonder of daar ooit versoening was sedert ek met die familie gepraat het vir my boek wat in 2010 verskyn het.

Ndileka sê daar was toenadering, maar dit het nie gehou nie.

“Dinge borrel nog altyd onder die oppervlak. Ek het aanvaar dit is ’n klug om voor te gee ons is ’n verenigde front as die hele wêreld weet daar is reuse-verskille. En daardie verskille bestaan, net soos in enige familie. Dis net jammer ons s’n speel in die openbaar af.”

Dit is waar dat die Suid-Afrikaanse media soms oor die familie se onderonsies berig, dikwels met beskuldigings en teenaanklagte en ontkennings wat heen en weer vlieg. Ek verbeel my ’n familie wat almal mekaar die rug toekeer tydens besoeke aan Mandela.

Ndileka sê dis glad nie so nie.

“Hy is die gom wat ons saamhou. Ek ys om te dink wat sal gebeur as daardie gom nie meer daar is nie. Maar ons sal saamstaan en ons verskille eenkant sit. Wel, ek is nie seker of ons ons verskille eenkant sal sit nie, maar ons sal saamstaan vir hom.”

Mandela se verjaardae is blykbaar ’n groot rede vir struweling. Miskien omdat hulle onvermydelik ’n gesamentlike reaksie of viering noodsaak.

Verlede jaar, tydens sy 94ste verjaardag, is Ndileka openlik deur Winnie gekritiseer omdat sy ’n ANC-eeufeeslesing ter ere van Mandela wat deur pres. ­Jacob Zuma gelewer is, bygewoon het.

Winnie was vies oor hoe die ANC haar gesin behandel het en het die lesing geboikot. Sommige mense het, blykbaar namens Winnie, vir Ndileka beskuldig dat sy die familie-eenheid verbreek het deur te gaan, en gesê sy het geen reg om die familie te verteenwoordig nie.

Dit lyk soos ’n stokou argument wat eindeloos herhaal word. “Dit het nooit verander nie en ek twyfel of dit ooit sal verander. Om te sê ek verteenwoordig nie die familie nie? Wie is hulle om te sê? As ek die eerste kleindogter is?”

Albei families is reeds aan die planne maak vir Mandela se 95ste verjaardag in Julie. Daar is vrese dat kommersialiteit die partytjie gaan bederf.

Die enigste planne wat tot dusver openbaar gemaak is, is ’n boksgeveg tussen twee kleinseuns uit die eerste familie, Ndaba en Kweku, in ’n casino in Monaco. Mandela was ’n bokser in sy jonger dae en is steeds ’n entoesias. Ndaba sê hulle het die idee gekry by sy tannie uit die tweede familie, Zindzi, die dogter van Winnie.

As dit waar is, moet hulle hoop dat hul toernooi ’n groter sukses is as die een wat Zindzi twee jaar gelede in Soweto probeer reël het. Toe dit misluk, is sy deur ’n Amerikaanse promotor, Duane Moody, gedagvaar.

Die Monaco-toernooi sal gehou word ná ’n banket ter ere van Mandela. Die casino glo Mandela sal dit bywoon – as hy gesond genoeg is.

Mandela se laaste groot verjaardag, sy 90ste, is ook versuur deur klagtes van kommersialiteit. Sy eerste familie het ’n verjaardagpartytje in die Oos-Kaap gereël. Toe Winnie se familie uitvind dat die geleentheid gebruik word om ’n “House of Mandela”-wynreeks bekend te stel, ’n projek van Maki, Mandela se enigste oorlewende dogter uit sy eerste huwelik, het hulle die geleentheid geboikot.

“Hulle het gemeen hul oupa behoort nie met alkohol geassosieer te word nie,” sê Ndileka.

“Vir my is wyn die drank van die gode. Dit is Bybels. Uiteindelik behoort Oupa se naam aan die familie, dit is ons nalatenskap. Die wyn se naam is nie Nelson Mandela nie, dit is Madiba Wyne van die Huis van Mandela. Van ons kant van die familie het ons besluit dat, wat ons ook al doen, dit nie sy naam hoef te dra nie.”

Daar is aan my gesê lede van sy familie het ’n beroep op hom gedoen om tussenbeide te tree tydens die konflik rondom sy 90ste verjaardag.

“Dit het niks met my te doen nie,” was Mandela se reaksie. “Dit gaan oor hul ma’s.”

Al het die verjaardagvieringe die familie weer aan die twis, sê Ndileka as sy nou daarna terugkyk, het sy tog simpatie met iets wat Zindzi destyds gesê het: dat dit lyk of dit aanvaarbaar is as iemand buite die familie uit die Mandela-naam probeer geld maak, maar as iemand binne die familie dit probeer doen, loop dit op ’n bakleiery uit.

“Hoekom nie? Dit is my vraag. Hoekom nie as almal anders dit doen?”

Ndileka stem nie saam met die aanhoudende bemarking van Mandela-produkte asof hy die enigste ikoon van die struggle is nie. Mandela self het immers altyd volgehou hy was maar een van baie. Hy het nie eiehandig apartheid beëindig nie, selfs al het dit soms so gelyk.

Ander, soos sy ou ANC-kameraad Oliver Tambo, het ook ’n belangrike rol gespeel.

’n Nuwe TV-werklikheidsprogram met die naam Being Mandela is die jongste bron van wrywing. Die TV-sterre is twee kleindogters uit Mandela se tweede familie, Swati en Zaziwe, die dogters van Zenani, Mandela se oudste dogter by Winnie. Hulle sê die program dra hul oupa se goedkeuring weg.

Dit volg die gewone werklikheidsresep: Daar is geen draaiboek nie en dit gee kwansuis ’n kykie in die vrouens se gesins­lewe, met voorafbeplande insetsels, waaronder ’n besoek aan die Robbeneiland-museum.

Ndileka weier om haar niggies, die tweede-familie-kleinkinders, te kritiseer. “Ek wil nie sê mense doen nie reg nie. Ek kan net vir myself praat. Ander mense neem hul eie besluite.”

Ek hoor party mense reageer met afgryse op dié program, wat reeds in Amerika te siene is en volgende maand ook in Afrika suid van die Sahara uitgesaai gaan word.

Die program is ook ’n ideale geleentheid vir Swati en Zaziwe om hul LWTF- (Long Walk to Freedom) modereeks te bemark: T-hemde met Mandela se gesig op.

In 2007 het Mandela sy eie Nelson Mandela-stigting opdrag gegee om sy gesig van al hul bemarkingsmateriaal te verwyder.

Hy het destyds genoeg gehad van die Mandela-kultus en wou nie hê sy gesig moet verder uitgebuit word nie.

Maar tye het klaarblyklik verander, en nou moet ons glo hy steun sy kleindogters se sake-praktyke heelhartig. Sommige mense is skepties hieroor en sê hulle twyfel of hy geweet het waartoe hy instem.

Al die familielede het wel ingestem dat hulle nie meer gaan toelaat dat nuwe foto’s van hom gepubliseer word nie, maar op 2 Februarie was daar op die webblad van die Being Mandela-program (asook in die Suid-Afrikaanse pers) ’n foto van hom met sy jongste kleinkind op sy skoot. Het hierdie foto, die T-hemde en die TV-reeks sy reputasie bevorder en sy nalatenskap help vier? Het dit sy waardigheid beskerm?

Soos iemand na aan Mandela, wat gepraat het op voorwaarde dat sy naam nie genoem word nie, gesê het: “Ek dink altyd: ‘Wat sal Madiba sê? Is dit betaamlik of onbetaamlik?’”

Mandela voel sekerlik skuldig oor die pyn wat hy sy familie aangedoen het weens sy lojaliteit aan die struggle. Miskien is dit waarom hy nie geweier het toe sy familie sy seën gevra het vir hul planne nie.

Dit is sekerlik waarom hy die Mandela Trust gestig het waaruit hulle almal ná sy dood voordeel sal trek. Dit behels meer as 20 individuele trusts vir sy kinders en kleinkinders.

Niemand wil oor die omvang van sy boedel praat nie, maar dit blyk dat sy betreklik klein rykdom in hierdie trusts opgesluit lê en in sy twee huise: in Qunu in die Transkei en in Houghton.

Soos Mandela goed weet, kan al sy familieprobleme teruggevoer word na sy geskiedenis. Hy is in 1944 met Evelyn getroud en hulle het in Soweto gaan bly.

Saam het hulle vier kinders gehad: Thembi, die pa van Ndileka, wat in 1969 op 24-jarige ouderdom in ’n motorongeluk dood is; Makgatho, ’n seun wat in 2005 aan MIV/vigs dood is toe hy 55 was, en Maki, wat amper 60 is. Nog ’n dogtertjie, ook Maki, is jonk dood.

Mandela het buite-egtelike verhoudings gehad en Evelyn het hom ná hul egskeiding van huishoudelike geweld beskuldig.

Dié aantygings is nooit in die hof getoets nie en nog altyd heftig deur hom ontken. Maar Thembi was ongelukkig oor die manier waarop sy pa sy ma behandel het en het van sy pa vervreemd geraak. Voor sy dood het hy sy pa nooit besoek nie.

Ndileka se ma, Thoko, het aan depressie gely en is weer getroud, maar haar tweede man is in polisieaanhouding dood.

Thoko het uiteindelik selfmoord gepleeg deur in 2002 in die Durbanse hawe te spring. Haar tannie, Maki, is uitgesproke oor haar woede en wrokke teenoor haar pa en dit is duidelik dit het steeds ’n vernietigende uitwerking op haar lewe.

Zindzi was destyds baie openlik teenoor my oor hoe sy en haar suster, Zenani, Winnie se dogters, deur die afwesigheid van hul pa geraak is.

“Almal van ons, Madiba se kinders, het stormagtige verhoudings gehad. Ek het twee keer vir egskeiding gedagvaar, weer probeer, maar is nou geskei. Makgatho is ook twee keer getroud. Daar is ’n patroon hier.”

Soos Thembi gevoel het oor die manier waarop Mandela sy ma, Evelyn, behandel het, was Zindzi ook ongelukkig oor die manier waarop Mandela háár ma, Winnie, behandel het.

In Mandela se afwesigheid het Winnie al hoe meer polities aktief geword en is oënskynlik geterroriseer deur die pogings van die apartheidstaat om haar te vernietig. Sy is beskuldig van betrokkenheid by die dood van Stompie Seipei en minstens twee ander – aantygings wat steeds nie lê nie nadat die lyke van twee van die beweerde slagoffers onlangs weer opgegrawe is.

Winnie is ná Mandela se vrylating tot vyf jaar tronkstraf gevonnis op aanklagte van aanranding en ontvoering, maar sy is op appèl vrygespreek en is nooit tronk toe nie.

Zindzi sê sy het deur dit alles baie swaar gekry, maar dit nie gewys nie. Sy kry steeds swaar.

Haar kleindogter Zenani is genoem na haar suster. Ek het haar een keer ontmoet by ’n geleentheid: ’n Wonderlike lewenslustige familie, klein Zenani wakker en nuuskierig en gedurig aan Winnie se sy. En Winnie vol egte sjarme.

Mandela het meer as 25 volwasse afstammelinge, maar Mandla, ’n kleinseun uit sy eerste familie, is die enigste wat ’n belangstelling in politiek toon.

Mandla se lewe is egter ook soos ’n sepie. Hy is beskuldig van selfverryking met die ontwikkeling van Nelson Mandela se tuisdorp, Mvezo, en van verskeie gevalle van uitbuiting, insluitende die verkoop van die televisieregte vir sy oupa se begrafnis aan die SAUK. Hy het dit ontken.

Sy egskeiding van sy eerste vrou was dramaties. Mandla het een van sy broers daarvan beskuldig dat dié ’n kind verwek het by sy (Mandla) se tweede vrou. Beskuldigings het oor en weer gevlieg.

Mandla is intussen wéér getroud. Hy is nog nie 40 nie.

Ek het Mandla ontmoet en het simpatie met sy stryd om sy eie voete te vind. Sy eie pa was in Mandela se skadu vasgevang en Mandla probeer minstens om ’n sosiale en politieke impak te maak. Hy wil graag gesondheidsdienste en opvoeding na Mvezo bring – ’n vlagskipprojek in die agtergeblewe Oos-Kaapse platteland.

Intussen het Ndaba, Mandla se broer, en Kweku, die seun van hul suster Maki, hul eie Africa Rising-stigting op die been gebring.

Mandela self is ’n trustee, maar sy naam is baie diskreet op die webblad. Hulle het ’n verskeidenheid gesondheids-, opvoedings- en leierskapprojekte. Alles lyk heel bo verdenking.

Kweku was voorheen by rolprentprojekte betrokke. Sy niggies het hom om raad gevra toe hulle hul werklikheidsprogram beplan het en sy advies was: “Meisies, kom ons doen dit, kom ons maak iets van die beste gehalte, ons maak seker julle het pret tydens die maak daarvan en dat julle nie ingeloop word nie.”

Hy steun ook hul LWTF-klerereeks. Suid-Afrikaanse bemarkingskonsultante praat reeds van “Brand Madiba”.

“Ek dink dit kan ongelooflik wees. Kyk net wat het Bob Marley se familie gedoen met húl handelsmerk (House of Marley). Ek het nou die dag ’n paar van hul oorfone gekoop en ek hou baie daarvan. Jy weet, ek dink uiteindelik is my niggies besig om nuwe maniere te vind om sy nalatenskap te hanteer op ’n manier wat tot hulle spreek.

“Ek dink nie daar is iets daarmee verkeerd nie. Ek dink dit gaan baie moeilik wees om te sê enige enkele individu kan my oupa se nalatenskap verander.”

Maharaj glo daar is wel ’n gevaar dat ’n mens die Suid-Afrikaanse of selfs die wêreldwye waarde van Mandela se naam skade kan berokken.

Hy dink enigeen wat ooit met hom probeer assosieer het, is daaraan aandadig: die ANC, die Nelson Mandela-stigting, Bill Gates, Richard Branson, Morgan Freeman, Oprah Winfrey – meer onlangs selfs die tennisspeler Roger Federer wie se ma probeer het om ’n ontmoeting met Mandela te reël sodat hy haar seun se welsynswerk kan ondersteun en wat blykbaar nie nee vir ’n antwoord wou aanvaar nie.

“Ons het saamgesweer,” sê Mac, bedoelende hulle het Mandela se naam en reputasie uitgebuit, selfs vir goeie sake. Só is bietjie vir bietjie afbreuk gedoen aan sy nalatenskap.
Maar Mac voel nie dit is vir hom om die familie te kritiseer nie. “Wie is ek om vir hulle te sê hoe om met hul eie naam te leef? Dit is hul naam en hul reg om te doen waarmee hulle ook al gemaklik voel.”

Dit is maklik om te vergeet, met al die praatjies van TV, mode en roem, dat Mandela ’n epiese lewe gehad het. Hy het die tronk oorleef, die onrus ná die einde van apartheid en ’n komplekse, tragiese familielewe.

Terwyl hy nou in die finale fase van sy lewe is, het ek vir Ndileka gevra waarom Mandela so lank gelewe het. Is hy nie heeltemal leeggetap deur alles wat hy beleef het nie?
Ndileka, wat as ’n spesialis-verpleegster in ’n waakeenheid gewerk het, sê ’n mens maak jou eie gesondheid. Mandela het soms gedrink en gerook, maar nooit buitensporig straf nie, en hy was altyd fiks.

“As jy as jy jonger is jou gesondheid oppas, pluk jy later die vrugte.”

En boonop glo sy nie Mandela is reg om dood te gaan nie. Sowel sy as Mac het nooit gedink hy nader die einde van sy lewe toe hy verlede jaar rondom Kersfees in die hospitaal opgeneem is nie.

Sy lang verblyf in die hospitaal was die gevolg van komplikasies met ’n prosedure wat verband hou met die behandeling vir galstene en ’n longinfeksie. Hy het tuberkulose gehad in die tronk, en dit laat hom vatbaar vir longinfeksies. Miskien sal dit uiteindelik so ’n infeksie wees wat sy einde sal beteken.

“Wat ook al die gelofte is wat hy met God en sy voorouers gemaak het, dit is nog nie volbring nie. Niemand weet wat dit is nie, net hy.”

Mandela, immer bekend om sy sin vir humor, het altyd grappies gemaak oor sy dood, oor hoe hy in die hemel gaan kom en onmiddellik die ANC-tak gaan soek om by sy ou kamerade aan te sluit. Deesdae praat hy baie min, maar sulke praatjies was deel van wie hy was.

Op sy mees onlangse verjaardag het Ndileka by hom gaan sit en foto’s geneem. Sy het hulle vir my gewys, hoewel sy nie wou toelaat dat dit gepubliseer word nie. Dit wys ’n man wat, al is hy maer, nie lyk asof hy op die rand van die graf is nie.

Soms, sê sy, lyk dit asof hy nie weet jy is daar nie. As jy wil loop, sê hy “sit”, asof hy nog nie klaar is met jou nie.

Tydens daardie laaste besoek het hy na ’n program op die National Geographic-kanaal gekyk. Sy oë is steeds goed.

Op die TV, sê Ndileka, was twee leeus besig om ’n buffel te jaag en te vang, tot Mandela se groot opwinding. Hy het op haar been getik, ywerig dat sy in die oomblik moet deel.

My raaiskoot is dat daardie leeus Nelson Mandela en Oliver Tambo was. En die buffel die apartheid-regime – finaal grond toe gebring en oorwin deur daardie stokou man in die stoel.

David James Smith is joernalis by die Londense Sunday Times Magazine.
© News International Syndication

binne rapport

Weer
Ksd: 14-18°C Sunny. Mild. Pta: 12-27°C Sunny. Pleasantly warm.
Jhb: 9-22°C Sunny. Mild. Bfn: 12-26°C Morning clouds. Pleasantly warm.
Dbn: 15-28°C High level clouds. Warm. PE: 17-26°C Rain late. Afternoon clouds. Warm.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Kamptoerusting!

Ons het al die kamptoerusting wat jy nodig het teen pryse wat jou kop sal wegblaas. Gaan loer nou daarna!

Wees voorbereid vir Nasionale Braaidag!

Dit is nooit te vroeg om te begin voorberei vir Braaidag nie. Tref voorbereidings met al ons ongelooflike braai-gereedskap. Koop nou!

Koop 3 boeke & betaal vir 2

Die goedkoopste van die 3 boeke sal gratis wees. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Bepalings en voorwaardes geld. Koop nou!

Winskopie van die week!

Hisense se 40” ten volle HD LED-televisie nou R3999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Kry tot 25% afslag op die 25 gewildste media-produkte!

Bespaar tot 25% op die jongste topverkopers van boeke, flieks, speletjies en musiek. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Winskopie van die week!

Hisense se 40” ten volle HD LED-televisie nou R3999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!