Dié jong ma sal wéér kaal poseer
2010-06-12 23:53
Karin Burger in Kaapstad
Blanche Rheeder sê sy sal sonder om twee keer daaroor te dink, wéér kaal poseer terwyl sy swanger is.
Die naakfoto van ’n hoogswanger Blanche (29) verlede week in Rapport het geweldige reaksie op die internet en in briewe uitgelok.
Die kritiek het die positiewe kommentaar heeltemal oorskadu, met party briewe wat selfs neerhalend en persoonlik was.
“Ek het ál die kommentaar gelees – party van die goed kon ek nie glo nie. Vriende van my pa het weer gebel en vir hom gevra of hy weet sy dogter verskyn kaalgat in die koerant.
“Ons leef nie meer in die 1940’s en 1950’s waartydens jy skaam was om jou lyf te wys nie. Ek is trots op die foto – dis smaakvol gedoen en ek beskou dit boonop as kuns.”
Blanche sê sy het die foto’s laat neem omdat sy die herinnering van haar swangerskap vir altyd wou vasvang.
“Alle vroue laat neem hulle af as hulle swanger is, hetsy dit hulle man met ’n selfoon is of hoe ook al. Ek het dit net ’n stappie verder geneem.”
Haar seun, Luke, is vandag 24 dae oud.
“Ek is só geseënd met hom. Hy is baie soet en baie oulik. Hy het klaar ’n roetine en word net een keer per nag wakker.
“Ek sal ook graag eendag die foto’s vir hom wil wys sodat hy weet waar hy vandaan kom.”
Blanche vertel sy sal beslis ander vroue aanmoedig om ook sulke foto’s te laat neem as hulle swanger is.
“Baie van my vriendinne sê nou hulle is spyt hulle het nooit foto’s laat neem toe húlle verwag het nie.”
Vir Blanche as enkelouer is dit glad nie moeilik om Luke te hanteer nie. Sy en Luke se pa is uitmekaar toe sy ses maande swanger was.
“My ouers, broer en ouma help my baie. Hier is baie hande wat graag help.”
Blanche werk met krediteure by ’n finansiële instelling en sy bly tans by haar ouers in Milnerton, Kaapstad.
Haar ma, Alice, sê die foto’s van haar dogter is vir haar pragtig.
“Ek haal my hoed af vir my kind. Ek sou nie self so iets kon doen toe ek destyds met haar swanger was nie.”